2016 Vrystaat Jongboer, ‘n trotste Senwes ondersteuner




Die sesde generasie Van der Linde, JD, is op 21 April 2016 tydens die Vrystaat Landbou Jongboer glansgeleentheid by Monte Bello Landgoed in Bloemfontein as provinsiale wenner gekroon. DJ is gemotiveerd om in sy voorvaders se voetspore te volg en voer aan dat sy oupa, DJ van der Linde, in 1984 Mielieman van die Jaar was. “Ek wil deel wees van ‘n goeie boerderygeskiedenis”, sê hy ambisieus. “Ek het nooit gedink dat ek die kompetisie tot by hierdie been sou wen nie. Daar is groot boere daar buite en ek sien myself nie as die top boer in die omgewing nie, maar ek probeer my bes en is trots om op gelyke voet met ander boerderye te kan meeding”. 
 
DJ het grootgeword op die plaas St. Helena naby Vierfontein en is tans die derde generasie op die plaas. Hy is ‘n trotse boer: “Ek het alles van boerdery by my pa geleer”. DJ het B.Ed Tegnika met hoofvakke, Motorvoertuigtegnologie en Pas-en-draai, by die Noordwes Universiteit te Potchefstroom gaan studeer. “Ek het van kleins af allerhande goed gebou en met my hande gewerk, maar ook geweet dat ek gaan boer. Ek het net gaan swot om vrou te vang”, voer hy grappig aan. Hy het sy sprankelende vrou, Rianette, op universiteit ontmoet en is geseënd met twee pragtige kinders, Divan (6) en Suhanri (4). “Sonder my gesin en in besonder my vrou, sou ek nie vandag hier gesit het nie. Sy ondersteun my op elke vlak van die boerdery”. 
 
DJ het volstoom in 2012 begin boer toe hy die plaas by sy oorlede pa, DJ van der Linde, geërf het. Hy het die gemengde boerdery stelselmatig uitgebrei tot 750 ha landerye en 150 ha weiding. Die boerderyvertakking sluit in 60% witmielies, 10% geelmielies, 25% sonneblom en 5% beeste (Simbras). Die een ding wat DJ by sy pa geleer het en dit ter harte geneem het is: “doen een ding eenmaal reg”. DJ hou daarvan om presies te weet wat in sy boerdery aangaan. “Ek is pynlik netjies in my werk”. Dit is daarom dat hy sy planttegnieke verfyn en aanplantings en oeste met meer presisie begin bestuur het. DJ is ‘n trotse Senwes ondersteuner, “Ek sal altyd ‘n pad saam Senwes stap. Hulle sorg vir ons boere”. 
 
Soos die spreekwoord lui: ‘n boer maak ‘n plan, gebruik DJ graag die toerusting, implemente en vaardighede wat op die plaas beskikbaar is om by die veranderende omstandighede aan te pas. “Ek het nie die nuutste implemente, trekkers en toerusting nie, maar ek pas dit aan om steeds by die toppunt van tegnologie en die ontwikkelende bedryf te bly”. JD spog met ‘n dorsmasjien uit die dertigerjare wat steeds in 'n 100% werkende toestand is, asook met 70’s en 80’s modelle John Deere trekkers. “Dit is verseker kanniedood trekkers”, sê JD trots. Sy planter wat hy jaar na jaar gebruik is al 40 jaar oud en word opgekikker met die nuuste tegnologie. 
 
Prof. Pieter Fourie, Assosiaat-professor by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) Vrystaat Departement van Landbou en sameroeper van die beoordelaars, sê dat die droogtetoestande die beoordeling bemoeilik het. Vir DJ het die droogte hom nader aan sy Skepper gebring en weer laat besef waar alles vandaan kom. Hy en sy werkspan (10 manlik en 3 vroulik) het saamgestaan en hard gewerk om steeds ‘n suksesvolle oes te lewer. “Ek boer nie om geld te maak nie. Ek boer vir 10 ander gesinne”. DJ is ‘n goedhartige man wat betrokke is in sy gemeenskap. Om ‘n paar voorbeelde te noem is DJ betrokke by Graan SA en Vrystaat Landbou. Hy diens ook tans die Vierfontein pad en tree as motorwerktuigkundige op vir baie van die SA Polisiediens se voertuie. Hy het ‘n gemeenskapskietbaan begin en ‘n sokkerveld vir sy werknemers uitgelê en bied gedurig sy hulp by die skool en kerk aan. 
 
“Ek boer ook baie by Senwes, Bothaville tak. Ek is mal oor die mense daar”, sê DJ met ‘n glimlag. Hy is betrokke by Senwes se klanteforum en sal baie graag ‘n produksielening by Senwes wil aangaan en geniet die Grainlink App, “dit is baie smart”. Tydens die kompetisie het Senwes ook vir DJ ondersteun.
 
Met Senwes stewig agter DJ, wens ons hom alle sterkte toe vir die finale been van die kompetisie.