Baie diepte op hierdie Vlakplaas




Oor die naam van die plaas “Vlakplaas” lag Koos net. Dié familieplaas is al vanaf 1933 in hulle besit en die naam het saam met die plaas gekom, wat deur sy pa, Adam, tydens die droogtejare by twee Jode gekoop is.
Koos het ook ‘n interessante begin gehad toe hy juis op 6 April, dieselfde dag waarop Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het – net 294 jaar later -  sy opwagting gemaak het.
 
FAMILIE
Die 69-jarige Koos boer saam met sy drie seuns Janes (42), Abraham (39) en Kobie (33). Hy is al vir amper 46 jaar getroud met Elize en hulle sal dié mylpaal in die nuwe jaar op 31 Januarie gedenk. Hulle het ook ‘n dogter, Janalize (41), wat by John Deere in die buiteland werksaam is, waar sy verantwoordelik is vir “ Region Training Delivery” wat Sub-Sahara Afrika, Indië, Asië en China insluit.
 
PLAASBEDRYWIGHEDE
Elkeen op die plaas behartig sy eie afdeling.  Janes doen aankope, verkope en behartig die kantooradministrasie. Abraham is met meganika in die werkswinkel werksaam en Kobie by die vee, sowel as by die werkswinkel.
Pa Koos vertel dat hoewel elkeen sy eie afdeling hanteer, span hulle saam tydens druk tye soos plant en stroop, met ma Elize wat die kospotte aan die gang hou.
 
LEUSE
Getrou volg die Barnard familie die 4 B’s, naamlik beplan, bestuur, betrokke en betyds. “Om ‘n sukses van boerdery te maak moet jy altyd beplan en nie sit en wag tot op nommer 99 nie.”
 
WERKERS
Daar is 18 werkers op die plaas, waar hulle toegang tot water en krag het en dan is daar ook vir hulle songeisers ingesit. Daar is ‘n plaasskool by Ysna waar die plaaskinders skoolgaan. Oorpakke en skoene word aan die werkers voorsien en hulle het ook ‘n prestasiebonusstelsel wat as aanssporing dien.

OOR GELOOF
“Jy moet saam met die Here boer, anders kan jy maar los. Alles is in die Here se hande.” Hulle vier graag as gelowiges saam Kersfees.  Eenmaal per jaar kom almal hier byeen en volgens hulle “werk dit soos ‘n bom”.

OOR DIE REËN
Koos vertel dat hulle hul lande regkry en dan net wag vir die reën. Sy raad aan ander in hierdie droogtetye is: “Jy moet reg sit en nie rondskarrel nie. Die venster is so klein. Jy moet haak, saad gooi, plant en klaar plant.”
 
SENWES VERBINTENIS
Koos sê dat hy afhanklik is van Senwes. “Ek het ‘n groot vloot John Deeres en is uit en uit ‘n John Deere man. Ons koop ook al ons saad by Senwes”.
Vir Koos is daar net een naam wat hy vertrou en dis John Deere. Oral waar jy kyk is dit groen - ‘n hele 17 trekkers, stropers, spuite, ensovoorts. “Ek kan onomwonde sê dat ek dié produk ondersteun.” Volgens hom is groen die beste en die diens en naverkopediens is uitstekend. Wat vir hom lekker is, is dat die produkte saamloop - “Jy ‘plug’ net in en die produk loop saam.”

BESTUURSPRAKTYKE
Koos het sowat nege jaar gelede begin om verdere bestuurspraktyke op sy plaas in werking te stel om sy risiko’s te bestuur. Dit het gelei tot groter begrotingsbesparings. Hy is ook van plan om hierdie praktyke uit te brei. “Ek maak die som dan net soveel makliker.”
 
WILD AS VERTAKKING
Die Barnards fokus die afgelope twee jaar ook op eksotiese wild instede van beesboerdery. Hulle het afgeskaal tot slegs 50 beeste. Die basiese redes is dat hulle sowat 40 beeste op 400 hektaar kan aanhou en die drakrag is dus 1/10, terwyl jy baie meer wild kan aanhou. Hulle het juis ‘n paar jaar gelede na groot wildboere op Kroonstad gaan luister, waar Danie Minnaar, Voorsitter van die Senwes direksie, ook teenwoordig was. “As jy die som gaan maak, regverdig ons aantal hektare nie beeste nie,” sê Koos se seun, Abraham. Hulle het in ‘n paar kampe met sowat 19 swartwitpense, 60 letswes, 20 njalas en 20 rooibokke.
Dan het hulle ook ‘n 800 hektaar wildsplaas tussen Boshoff en Kimberley, waar hulle ‘n paar honderd stuks wild (sowat 300 tot 400) het, naamlik koedoes gemsbokke, waterbokke, rooibokke, blesbokke, asook kameelperde.
 
AANPLANTINGS
Die Barnards glo 100% in dieprip- en stoppelbewerking, hulle karteer en pas varieerende toedienings van kunsmis toe. Hulle het sowat 3 000 hektaar tot hulle beskikking en ploeg volgens ‘n oorlêstelsel. Hulle doen dit al die afgelope 15 jaar en is baie doeltreffend met vogbestuur. Die opbrengste spreek vanself. Daar is net nie ‘n vergelyking met ander metodes nie. Hulle het vanjaar tot 7.5 ton per hektaar vir mielies gekry en 3 ton per hektaar vir sonneblom en sojabone.
Doen so voort, Barnards van Hoopstad op julle Vlakplaas!   
"Getrou volg die Barnard familie die 4 B’s, naamlik beplan, bestuur, betrokke en betyds. “Om ‘n sukses van boerdery te maak moet jy 
altyd beplan en nie sit en wag tot op 
nommer 99 nie.”