Die debat oor die beste handwapen




Sekerlik ken almal die verskil tussen 'n rewolwer en 'n pistool. Maar hoe werk hulle? Wat gebeur binne in 'n wapen voor die skoot af gaan?  En hoekom is die inligting belangrik as dit by die aankoop van nuwe wapens kom?

Meeste rewolwers kan net ses skote skiet voor dit herlaai moet word.  ‘n Rewolwer se ammunisie word in die silinder geberg. Sodra die sneller getrek word, draai die silinder sodat die volgende rondte tussen die loop en die slagpen inskuif.  ‘n Rewolwer se sneller is redelik hard om af te trek, aangesien dit ‘n dubbel-aksiewerking het.  Die trek van die sneller moet die silinder draai, die haan span en dan eers kan die skoot gevuur word deur die sneller nog verder in te trek. Rewolwers in die algemeen word ook ontwerp sonder 'n duim-veiligheidsknip.  
 
Rewolwers is maklik om te hanteer. Dit is 'n eenvoudige wapen waarvan jy net die sneller hard genoeg moet trek om jou wapen te vuur.  Rewolwers kom in verskillende groottes.  Van jaghandwapens tot by relatiewe  klein wapens. Met hulle min bewegende dele is 'n klein rewolwer 'n gemaklike drawapen wat vinnig gevuur kan word, mits jy die sneller hard genoeg kan trek. Maar hy het sy beperkings. Die min skote en die veiligheidsaspek van 'n rewolwer is seker van sy grootste nadele.

Ja, daar is pistole wat ook net ses skote skiet voor jy moet herlaai, soos rewolwers.  Maar dan is daar pistole wat so baie soos 19 skote kan skiet voor jy moet herlaai. Pistole het 'n ander werking as 'n rewolwer. Dit is nie net die kapasiteit van die ammunisie wat die verskil tussen die twee wapens is nie.

Pistole is semi-automatiese wapens wat hulleself herlaai na elke skoot. Voor die eerste skoot van 'n pistool geskiet kan word, moet die skut self die wapen span. Dit voer die eerste rondte uit 'n magasyn uit in die kamer van die wapen in en span die slagpen of die haan van die wapen. Die wapen se slagpen of haan word na die eerste skoot deur die werking van die wapen self gespan sodat jou volgende skoot gevuur kan word deur slegs die sneller te trek. Pistole word ontwerp met 'n duim-veiligheidsknip  of  'n vingerveiligheidsknip of albei. Aangesien pistole veiliger is en meer ammunisie kan stoor as rewolwers, is dit 'n wapen wat goeie voordele het. 

Wat is dit wat 'n mens in gedagte moet hou as jy 'n handwapen wil aanskaf? Kom ons kyk na 'n paar stappe om te oorweeg in die keuse van 'n handwapen. 

Die beste handwapen is die een wat jy by jou sal dra en met gemak kan gebruik. 
Dit is nutteloos om 'n groot handwapen te besit as hy nie gemakik is nie. Dit sal ook nie help as 'n groot, swaar handwapen in die kluis gebêre word aangesien hy nie gemaklik gedra kan word nie. 

Tweedens moet jy 'n handwapen kies waarmee jy gemaklik kan werk. 
Kan jy die wapen laai, span en veilig maak?  Veral vir dames is dit belangrik om 'n pistool te kies wat hulle kan span.

Derdens moet jou wapen jou hand en jou liggaam pas. 
 Indien jy gemaklik is met die greep en die natuurlike rigting van 'n wapen sal jy akkuraat skiet met hom.  Saam met die pas in jou hand moet jy die wapen ook pas aan jou lyf. Besluit waar jy die wapen wil dra en hoe jy dit wil dra.

Indien 'n wapen gemaklik is, jy dit kan hanteer en dit jou pas, sal dit die beste handwapen wees, vir jou!