Dopontwerp - Invloed is groot op die werking van koeël en kaliber




Ons besef dalk nie aldag hoe ’n groot effek die dop se ontwerp het op die werking van die koeël en die kaliber nie.

Wanneer ons na verskillende dopontwerpe kyk, is daar drie bekende ontwerpe wat alledaagse skuts mee te doen kry. In elke ontwerp is daar verskillende vorms wat gebruik word om die dop ’n unieke kaliber te maak. Ons verwys na die lyf van die dop, die onderkant of voetstuk van die dop. Die oudste tipe dopontwerp is die “rimmed” ontwerp.

Dié tipe ontwerp het rande aan die onderkant van die dop wat ’n aansienlike groter deursnit het as die onderkant van die dop. Die rande word gebruik om die dop op die regte diepte in die geweer se kamer te hou. Voorbeelde van ’n “rimmed” dop is die bekende .303 British asook die 38 Special rewolwer. Die voordeel van die ontwerp is dat dit gemaklik gebruik word in vuurwapens soos rewolwers en oopknak-aksiegewere.

Die rande keer dat die dop nie te diep in die kamer geplaas word nie en ook maklik uitgetrek kan word. ’n Nadeel van die dopontwerp is dat dit moeiliker voer vanuit die bokstipe magasyn. Die rand van die onderste dop kom soms in die pad van die boonste dop se rand. Dit het dan tot gevolg dat die boonste dop soms moeilik voer. Ander voorbeelde van dié doptipe is die 357 Magnum asook die 44 Magnum.

Die ”rimless” dopontwerp is een van die bekende doppe. Uit die naam kan afgelei word dat die rand van die dop ongeveer dieselfde deursnit het as die onderkant van die dop. Tussen die dop en die rand is die uittrekselgroef. Die benaming van die groef verduidelik vir ons wat die doel van die groef is - dit word gebruik om die dop uit die geweer se kamer te trek.

Aangesien die tipe ontwerp nie ’n rand het wat sy diepte in die kamer kan beheer nie, word die diepte wat die dop in die kamer ingaan, op die volgende maniere beheer: Met ’n dop wat ’n skouer het, bepaal die skouer die diepte wat die dop in die kamer ingaan. Met ’n reguitontwerpdop bepaal die totale doplengte die diepte.

Aangesien die doppe nie ’n rand aan die onderkant van die dop het nie, voer hulle maklik en betroubaar uit ’n boksmagasyn uit. Pistole en ander semi-outomatiese gewere gebruik meestal die tipe dopontwerp aangesien hulle betroubaar uit ’n magasyn uit voer. Voorbeelde is die .223 Remmington, .243 Winchester, 7.62x51 Nato en die AK 47.

Die derde tipe ontwerp is die “belted” dop. Die ontwerp is ’n “rimless” dop met ’n belt aan die onderkant van die dop, net bo die uittrekselgroef. Die doel van die belt is om die diepte van die dop in die geweer se kamer te beheer. Die ontwerp is gebruik om die diepte van doppe wat nie skerp skouers aan die bokant van die dop het nie, in die kamer te beheer. Die ontwerp voer ook maklik vanuit ’n boksmagasyn.

Die drie tipe dopontwerpe beskryf meestal die onderkant van die dop. Deur die jare het die skouers van die dop ook verskillende vorms aangeneem. Sekere skouers het skerp hoeke en ander het ronde hoeke. Van die bekende skerpskouerkalibers is die .243 en .308 Winchester.

In 1903 is ’n bekende wapensmid gebore wat ’n groot invloed gehad het op die skerpskouerdopontwerp. Parker Otto Ackley, meer bekend as P.O. Ackley, het verskillende kalibers verander deur die skouers van die doppe teen ’n skerper hoek as die oorspronklike dop te ontwerp. Een van sy bekende ontwerpe is die .243 Ackley Improved. Hy het die .243 Win se skouers skerper ontwerp deur ’n 20 grade skouer na 40 grade te verander. Meeste Ackley Improved kalibers skiet vinniger as die oorspronklike kaliber aangesien die dop meer dryfmiddel kan vat, te danke aan die skerper skouers.

Roy Weatherby, wat ook ’n wapensmid was, het kalibers ontwerp wat “belted” doppe gebruik met ronde skouers. Die Weatherby kalibers is bekend vir hulle vinnige spoed en relatiewe hoë druk. Weatherby se liefde vir hoëdrukkalibers het hom genoop om ’n aksie te ontwerp wat die druk van sy kalibers kan hanteer. In 1958 het Roy die Mark V-slotaksie bekendgestel, wat die hoë druk van die Weatherby kalibers kan hanteer.

Deur die jare was daar baie wapensmede wat doppe ontwerp het. Nuwe kalibers wat die laaste 20 jaar die mark betree het, spog met voorletters of name in die benaming van die kaliber. Agtervoegsels soos PPC en Creedmoor begin meer bekend raak. Die ontwerpers ontwerp meestal ’n dop waarvan die lengte en hoek van die skouers verskil van ander dopontwerpe. Die drie tipes ontwerpe bly egter die basis van alle kalibers.