Is spoed en akkuraatheid verwant aan mekaar?




Ek het met ’n 308-kaliber ses verskillende ladings geskiet. Elke groep het bestaan uit drie rondtes waarvan al die veranderlikes konstant gehou is tussen die groepe, behalwe die hoeveelheid dryfmiddel. Elke groep se dryfmiddel het .5gr van mekaar verskil. Ek het die ses verskillende groepe geskiet en die spoed gemeet van elke skoot, asook die groeperingsgrootte van elke drie skote van dieselfde lading. Na afloop van my toets het ek die data verwerk om die teorie te toets. Hier volg die data wat ek op die skietbaan gekry het.

Wapen: 308 Howa 24-duim
Doppe: Lapua
Aansteker: PMP
Dryfmiddel: S341
Projektiel: Balistix 167gr Huntac
Afstand: 100 m

Teiken nommer 1 het die beste groepering gegee. Die uiterste verspreiding van die drie skote se spoed is aanvaarbaar op 20fps, maar enige skut sal weet dat 28.67 mm nie aanvaarbaar is nie. Teiken nommer 5 se drie skote het die beste uiterste verspreiding gegee, alhoewel sy groepering nie naby aan die kleinste is nie. Sy groeperingsgrootte van 60.33 mm is ook nie naby aan ’n akkurate groepering nie.

Uit hierdie 24 skote wat geskiet is, kan ons duidelik sien dat die uiterste verspreiding nie alleenlik gebruik kan word om akkuraatheid te bepaal nie. Die drie skote waarvan die spoed die naaste aan mekaar is, skiet oor die 60 mm uitmekaar uit, en dit met ’n kaliber wat gewoonlik baie beter groeperings skiet as wat in die toets gevind is.

Skuts en herlaaiers regoor die wêreld gebruik spoed as ’n aanduiding van akkuraatheid. Indien dit wel ’n geldige manier is om akkuraatheid te bepaal, moet daar nog ’n veranderlike wees wat nie in aggeneem is in die toetse nie.

Indien die lading gebruik word wat vir ons die beste uiterste verspreiding gegee
het en die totale patroonlengte (TPL) verander, mag ons ’n beter groepering kry as wat huidig die geval is.

Indien die verandering in TPL vir ons ’n beter groepering gee, kan ons spoed gebruik as ’n aanduiding van die lading wat gunstig is vir die spesifieke wapen. TPL word dan gebruik om die gaatjies nader aan mekaar te kry.

Indien dit die geval gaan wees, is spoed ’n aanduiding van gunstige lading,
maar nie van akkuraatheid nie.

Aangesien konstantheid vir ons akkuraatheid gee, sal ons eerder die lading
kies wat die mees konstante spoed gee as die lading wat vir ons die mins konstante lading gee om ons toets verder te verfyn. Daar sal ons met die vyfde groep patrone se lading werk en die TPL verander in die hoop op ’n beter groepering.

Kom ons kyk volgende keer wat doen TPL tesame met ’n konstante spoed aan
akkuraatheid!