Jagfiks?




Is dit nie wat meeste  van ons al gedoen het voor 'n jag nie? As gevolg van verskeie redes kan ons nie genoeg in die jagveld uitkom nie. Daarom is die paar keer per jaar wat jy in die jagveld is, kosbare tyd. Wil jy regtig jou tyd gebruik om agter mis skote en gekweste bokke aan te stap? Is dit nie beter om meer tyd aan oefening te spandeer wat jou kan help om 'n goeie skoot te skiet nie?


In Suid-Afrika is daar 'n paar maniere van jag. In die Bosveld stap en jag ons meestal. In die Karoo behoort jy meestal voorsitjag te doen en in die oop vlaktes van die Vrystaat behoort ons meestal van 'n bakkie af te skiet. 


'n Beter voorstel vir jou jaguitstappievoorbereiding sal wees om te oefen soos wat jy gaan jag. Skiet jou geweer in van die bakkie se dak af. Of gaan sit in jou voorsitstoel en kyk tot hoe ver kan jy 'n springbok doodskiet. Stap tot op 100m en terug, vat jou skietstokke en probeer dan die rooibok agter die katbos raakskiet.  Indien ons net ons gewere instel soos wat ons moontlik gaan skiet, sal dit ons alreeds baie help om die jag makliker te maak. Kom ons kyk na ekstra "oefeninge" wat ons kan doen voor ons gaan jag.


Jagsituasies in die veld: daar is hoofsaaklik vier posisies waaruit jy kan skiet. Kom ons kyk na die posisies en hoe ek die skootplasing uit die posisie uit kan verbeter.


Lêposisie

Om in die veld te lê en jag is nie iets wat hom aldag voordoen nie. Daar is meestal gras, struike, bome en ander voorwerpe wat in jou pad is. Maar indien jy kan lê, is dit die stewigste posisie om vanuit te skiet. Maar dit is steeds 'n posisie wat geoefen moet word. Gaan lê op die grond en besluit hoe gaan jy skiet indien jy in die veld is. Het jou geweer 'n tweepoot op wat jy kan gebruik, of gaan jy net die geweerband om jou arms draai en op jou elmboog lê? Belangrik is om te oefen en te kyk hoe ver jy 'n bok uit die posisie uit kan raak skiet. So sal jy weet wat te ver is in die veld.


Sitposisie

Vir die sit-, kniel- en staanposisie is dit belangrik om 'n ondersteuning te probeer gebruik. Indien jy 'n stapstok saam met jou dra, kan jy dit gebruik om die geweer stil te hou. Indien jy 'n boom of 'n struik wil gebruik, dink hoe gaan jy die geweer teen die stam druk. Gaan jy links of regs verby die stam mik? Die sitposisie is ook relatief stabiel, maar is 'n moeilike posisie om in te neem. Indien jy nie die posisie gemaklik kan inneem nie en nie maklik kan opstaan nie, kan die knielposisie dalk beter wees. 


Knielposisie

Alhoewel 'n gemsbokjag in die Kalahari sekerlik vanaf die bakkie sal plaasvind, moet die kniel- en staanposisie nie as onnodig beskou word nie. Indien jy 'n longskoot skiet en die gekweste gemsbok wikkel sy agterstewe diep in 'n bos in, waar die voertuig nie kan uitkom nie, is daar ongelukkig net een manier om hom dood te skiet - afklim, nader stap en 'n skoot te skiet uit die kniel- of staanposisie. Het jy 'n stapstok op die bakkie om jou te help stilstaan met dié soort van skoot? Of klop jou hart so vinnig dat die kruishaar oor die hele kop rondbeweeg? Weereens moet die knielposisie geoefen word op die baan voor jy gaan jag.  Draai jy jou band om jou arms en kniel op jou linker knie? Of sak jy jou regter knie en sit jou linker elmboog op jou linker knie vir stabiliteit? 


Staanposisie

Staanposisie is die maklikste? Jy druk die geweer in jou skouer en skiet! Lekker vinnig en jy hoef nie af te sak nie. Jy sukkel ook nie om weer op te staan nie en jy kon die bok sien toe hy wegspring. Daar was nie struike in die pad nie en ek weet waar die bok lê.   Nee, ongelukkig is staan die moeilikste posisie. En sekerlik die belangrikste een. Êrens in jou jagjare gaan dit nodig wees om 'n bok 'n tweede skoot van naby af te skiet. En vir die skoot het jy nie tyd om te sit, of 'n boom te soek vir ondersteuning nie. Die bok gaan nou weer opspring en ons wil hom so gou as moontlik die tweede skoot skiet. Gaan probeer gerus die staanposisie op die baan. Kyk hoe naby jy aan 'n voorwerp moet kom om dit raak te skiet uit dié posisie uit. Maar dalk nog meer belangrik, is waar my geweer gaan skiet op 30m as ek op 200m ingestel het? Gaan hy hoog of laag tref? Sal ek hom lank genoeg kan stilhou om die skoot af te trek? Sal ek die skoot reg kan aftrek?


Met al die skietoefening is die idee sekerlik om jou skietvernuf te verbeter. Maar eerstens sal die skietoefening ons leer wat ons kan doen in die jagveld. Hopelik sal ons dan beter weet of ons 'n spesifieke skoot kan skiet, of nie.  


Lekker inskiet en lekker oefen. En onthou - jag verantwoordelik en volhoubaar!