Karoo juig na meeste neerslae in Oktober sedert 1996

  • 29 Oktober 2021
  • 1290
  • nuus



Neerslae van 20 mm tot 45 mm is verlede week in die Williston-omgewing gemeet teenoor die 35 mm wat in 1996 aangeteken is. Ander gebiede wat goeie neerslae geniet het sluit in Upington (50 mm), Augrabies (25 mm), Brandvlei (33 mm), Calvinia (19mm), Askham (20 mm) en Vanzylsrus (22 mm).

Volgens die onafhanklike landbouweerkundige, Johan van den Berg, is die ongeveer 50 mm wat in dele van die Pofadder-distrik gemeet is, die meeste wat nog in Oktober in die omgewing geval het. In 2005 het 24 mm voorgekom en in 1982 35 mm. Laasgenoemde was tot onlangs die beste neerslae vir Oktober sedert 1970.

Oktobermaand blyk reënmaand te wees

Van den Berg verduidelik dat daar al heelwat soortgelyke jare voorgekom het waar byvoorbeeld Williston ook noemenswaardige neerslae, meer as 20 mm, in Oktober geniet het. Dié Oktobermaande was in 1973, 1976, 1981, 1982, 1984, 1985, 1991, 1995 en 1996.

Interessant genoeg het Pofadder slegs in drie jare oor die afgelope 39 jaar meer as 15mm reën in Oktober gehad, naamlik in 1982, 1999 en 2005. In al drie dié seisoene was daar minsgens nog een maand daarna met bogemiddelde reënval voor die volgende winter. Histories gesproke meen Van den Berg dat weerpatrone daarop dui dat die kans goed is vir opvolgreën in hierdie gebiede.

Ook hier is goeie neerslae aangeteken

Ander gebiede in die Klein-Karoo en die Oos-en Wes-Kaap het ook goeie neerslae aangeteken:

  • Oudtshoorn, 40 mm
  • Ladismith, 57 mm
  • Laingsburg, 21 mm
  • Willowmore, 21 mm
  • Aberdeen, 16 mm
  • Joubertina, 27 mm
  • Port Elizabeth, 15 mm
  • Jamestown, 10 mm.

In die Wes-Kaap het neerslae gewissel vanaf 50 mm by Villiersdorp tot 30 mm en 24 mm by Malmesbury en die Paarl onderskeidelik.