Konsep Wysigingswetsontwerp op belastingwette 2017




Nasionale Tesourie wysig elke jaar ons belastingwetgewing en in hierdie uitgawe ondersoek ons die Konsep Wysigingswetsontwerp op belastingwetgewing van 2017, soos aangevul deur die Nasionale Tesourie.   
 
Aangesien dit slegs konsepwetgewing is, mag dit nog steeds verander.
 
HERROEPING VAN BUITELANDSE WERKSINKOMSTE VRYSTELLING 
VOORGESTELDE EFFEKTIEWE DATUM: 1 MAART 2020
 
Tans, volgens artikel 10 (1) (o) (ii) van die Inkomstebelastingwet (IBW), is die vergoeding wat Suid-Afrikaanse inwoners buite Suid-Afrika verdien, ten volle vrygestel van inkomstebelasting, mits hulle buite die land is vir 'n spesifieke periode.
 
Dink net aan al die inwoners van Suid-Afrika wat in die buiteland (bv. in Dubai) werk. Die probleem wat die Nasionale Tesourie het, is dat in sommige gasheerlande geen of baie lae belastingtariewe op die SA inwoner se inkomste toegepas word.  Hierdie vrystelling is nie van toepassing  op diegene wat in die openbare sektor in die buiteland werk nie, slegs Suid-Afrikaanse inwoners in die buitelandse privaatsektor het die belastingvoordeel.
 
Daar word voorgestel dat die vrystelling herroep word en dat alle buitelandse vergoeding wat R1 miljoen oorskry, onderhewig sal wees aan belasting in Suid-Afrika.
 
Uit 'n finansiële beplanningsperspektief kan dit lei tot 'n groter aansporing vir hierdie Suid-Afrikaanse inwoners om hul aftreespaargeld in Suid-Afrikaanse aftreemiddels te verhoog, om voordeel te trek uit die belastingvoordele (soos aftrekkings).  
 
VERFYNING VAN MAATREËLS OM BELASTINGONTDUIKING TE VOORKOM DEUR DIE GEBRUIK VAN TRUSTS
VOORGESTELDE EFFEKTIEWE DATUM: 19 JULIE 2017
 
Toe die IBW-wysiging van 2016 ingestel is, was daar 'n toename in rekeninghouers wat hul trustlenings na maatskappye oorgedra het om die bepalings van Artikel 7C te vermy, wat lae of rentevrye lenings aan trusts beskou as donasies (onderhewig aan skenkingsbelasting teen 20%).
 
Daar word voorgestel dat artikel 7C uitgebrei word om ook lenings deur maatskappye, waarvan die aandele deur trusts gehou word, in te sluit.
 
Trusts word duidelik ondersoek en beskou as mediums wat individue met 'n hoë netto waarde gebruik om hul belasting, nou en by sterfte, te verminder.
 
 'n Trust  is 'n waardevolle boedelbeplanningsinstrument, en   klem  word daarop gelê  dat welvaart vir toekomstige geslagte beskerm word.  Dus moet kliënte dit aanvaar om 'n premie vir hierdie beskerming by wyse van hoër belasting te betaal.
Kliënte moet verstaan wat die implikasies is wanneer hulle kies om 'n inter vivos-truststruktuur te gebruik.
 
Al is u as kliënt bewus van die voor- en nadele van die stigting en oordrag van bates aan 'n trust, moet 'n gekwalifiseerde persoon u adviseer  oor hoe om hierdie strukture op te stel. Testamentêre trusts bly van onskatbare waarde by boedelbeplanning en die kwessie van leningsrekeninge behoort nie hier 'n rol te speel nie.  
 
Testamentêre trusts kan  op baie maniere aangewend word, tesame met lewensversekering, om die betaling van boedelbelasting en kapitaalwinsbelasting op datum van dood te befonds. Praat met u finansiële beplanner as u glo dat hierdie voorgestelde veranderinge u omstandighede sal beïnvloed.