Mei bring dalk eerste goeie winterneerslae

  • 30 April 2021
  • 1724
  • nuus



Hiermee saam meen Van den Berg dat die kans vir baie koue toestande met swaar ryp voor die einde van April en die eerste week van Mei relatief swak is. Minimum temperature van onder 10°C sal wel aangeteken word, maar sal nie voor die middel tot einde van April die kwik onder 5°C laat daal nie.

Van den Berg verduidelik dat wat reënvalvooruitsigte oor die res van die land betref, enkele buie moontlik is oor die sentrale dele wat strek vanaf Namibië in die noordweste en suidooswaarts oor die Kalahari, Noordwes, die Vrystaat en ooswaarts. Baie min of geen reën word gevolglik vir die droë westelike en suidelike binneland voorspel nie.

La Nina-toestande beïnvloed steeds weerpatrone

Die La Nina-verskynsel het verswak tot in die neutrale fase met seeoppervlaktemperature wat binne die reeks van 0,5°C warmer tot 0,5 °C koeler as normaal is. Hierdie verswakking kan tot die eerste deel van Mei ʼn beduidende invloed op weerstelsels uitoefen, terwyl dit daarna baie min impak behoort te hê vir die winter.

Goeie voorbeelde van die impak wat La Nina-stelsels op weerstoestande kan hê, is tans sigbaar in die uiterste toestande wat oor die suidooste van Australië en die Stille Oseaan aan die weskus van Amerika voorkom. Oorstromings het in die suidoostelike dele van Australië voorgekom met neerslae van 200 mm tot 500 mm wat binne dae voorgekom het. In Denver, Colorado, is meer as 82 cm sneeu in Maart aangeteken.

Geskiedkundige data toon dat oorstromings gereeld tydens sterk La Nina-stelsels kan voorkom. Ernstige oorstromings het in die verlede gedurende Maart in La Nina-jare soos 1970, 1975, 1988 asook 2010 en 2011 voorgekom. Hierdie jare het ook bogemiddelde reënval oor Suider-Afrika tot gevolg gehad en daar was selfs in Junie 2011 oorstromings in die sentrale binneland van Suid-Afrika.

“Daar is dus nog ʼn kans vir swaar reën in April en Mei oor die land, maar die verswakking van die La Nina-stelsel kan ook die kans op swaar reën oor die somerreëngebied vanaf Mei en Junie verswak,” sê Van den Berg.