Nasie in Gesprek 2019 eindig met ‘n blik op die toekoms





Die paneel het bestaan uit Pieter Smit, direkteur van SANSOR, en bemarkingshoof by Bayer; Ikageng Maluleke landbou-ekonoom by Graan SA; Siyanda Sishuba, joernalis by Farmer’s Weekly tydskrif; Jacqueline Mathews, Groepsbestuurder: Versekeringsdienste by NWK; asook Pascal Chuene, sakebestuurder vir landbou-ontwikkeling by Engen.

Die fokus van die gesprek is om die werksgeleenthede en loopbane, asook ander opsies binne die landbouwaardeketting uit te lig. Die paneellede het uitgewy oor hul persoonlike ervarings asook hul reis binne landbou tot waar hulle vandag is.

Indien jy al ooit gewonder het oor die loopbaangeleenthede in die landbousektor, is hierdie program net vir jou! Jacqueline het gesels oor hoe sy met ‘n boer getrou het wat haar die geleentheid gebied het om haar rekenmeestervermoë op die proef te stel binne die landbouwaardeketting, waar sy nou by NWK werksaam is.

Siyanda se verhaal gaan oor haar passie vir omgewingskwessies en voedselsekerheid. Ikageng se pad na landbou-ekonomie het by die saadjie begin wat haar ouma by haar geplant het.

Pascal het sy storie gedeel wat baie draaie gemaak het voor hy in die landbou-sektor gekom het, en vertel die storie vanuit ‘n brandstofverskaffer se oogpunt. Gedurende die vraag- en antwoordsessie het die paneel verwys na die hoë gehalte van die vrae van die jong deelnemers wat die sessie bygewoon het.

Die gevolgtrekking van die sessie is dat loopbaangeleenthede in landbou divers en wydverspreid is, van agronomie, hommeltuigtegnologie, groot-data, data-ontleding, forensiese-rekeningkunde, risikobestuur, joernalistiek en bemarking; en nog vele ander geleenthede in die voedselwaardeketting, van die saad wat geplant word, tot die voedsel wat jy eet.

Om na die opwindende episode te kyk besoek www.nasieingesprek.co.za.