Noodroep na brande verwoesting saai

  • 23 Oktober 2020
  • 2345
  • nuus



In ʼn persverklaring wat deur Vrystaat Landbou (VL) uitgereik is, sê dr Jack Armour, Operasionele bestuur van Vrystaat Landbou, dat die brande deur betogers gestig is wat blykbaar oor swak dienslewering betoog het. Die erge hitte en sterk wind wat reeds sedert die naweek in die Vrystaat heers, het die situasie verder bemoeilik.

“Beeste het in sommige situasies sewe plase ver gehardloop om van die vuur te ontsnap.”, sê Armour. “Alhoewel daar geen lewensverliese was nie, is ons bewus van boere wat ernstige brandwonde opgedoen het en ons wens hulle ʼn spoedige en vinnige herstel toe.”

Brandstigting word ondersoek

Vrystaat Landbou is reeds besig om met behulp van sy grondvlakstrukture ʼn opname te maak van die skade, maar op hierdie stadium blyk dit dat veral voerskenkings ʼn ernstige behoefte is.

“Vrystaat Landbou verwelkom dat die SAPD reeds ‘n saak van brandstigting ondersoek en beskuldigdes reeds gearresteer is. Ons kan nie toelaat dat boere en plaaswerkers se lewens verder op risiko geplaas word in die huidige omstandighede as gevolg van kriminele aktiwiteite, soos brandstigting, nie.”, sê Armour

Raak betrokke

Volgens Armour is R100 000 uit die VL Rampfonds beskikbaar gestel vir brandstof vir voerskenkings. Hierdie proses sal deur die VL-kantoor geadministreer word en allokering van skenkings sal deur die plaaslike landbouverenigings aan geaffekteerde boere gekoördineer word.

VL doen ’n beroep op enige instansie of individu wat betrokke wil raak, om Elize Spence by VL-kantoor te kontak by elize@vslandbou.co.za of 051 444 4609.  Finansiële bydraes kan gemaak word aan VL se rampfonds by:

Vrystaat Landbou
ABSA
Rekeningnommer: 470940670
Takkode: 632005
Verwysing: RAMP+ selnommer

* Volgens Armour is die brande tans onder beheer, maar dele in die Wes-Vrystaat bly steeds ʼn risiko weens die hittegolf wat heers.