Nuwe perspektief kan voedselsekerheid op huishoudelike vlak help verseker

  • 16 Oktober 2020
  • 2041
  • nuus



Dit is die mening van dr Sifiso Ntombela, hoofekonoom by die Nasionale Landboubemarkingsraad, tydens ʼn onlangse onderhoud met die publikasie Farmer’s Weekly. Volgens dr Ntombela, veronderstel hierdie nuwe denkwyse dat kleinboere bemagtig word ten einde self onderhoubaar te wees en as voedselproduseerders na vore te tree. Hierdie proses noodsaak egter beter toegang tot hulpbronne soos water, landbougrond en kapitaal.

Dr Ntombela verduidelik dat die tradisionele fokus op kommersiële boere as primêre voedselproduseerders deur hierdie denkwyse verander word na ʼn meer koöperatiewe simbiose waar beide kleinboere en kommersiële boere kan bydra tot voedselsekerheid, werkskepping en uiteindelik die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Hierdie voorgestelde koöperatiewe simbiose sal, volgens dr Ntombela, nie net die Suid-Afrikaanse agri-landskap hervorm nie, maar ook die voedselwaardeketting versterk. Hy beklemtoon egter dat, ten einde hierdie hervorming te realiseer, die regering sy hulpbronne dienooreenkomstig sal moet herprioritiseer met verbeterde toegang tot produksiehulpbronne, markte, navorsing, tegnologie en infrastruktuur. Dit sal ook beteken dat die regering sy landboubegroting van R28 miljard moet hersien terwyl privaat beleggers ook tot die uitbouing van tegniese vaardighede sal moet bydra.

“Tydens die koronaviruspandemie het ons gesien dat hoewel nasionale voedselvoorrade voldoende is, huishoudelike voedselsekerheid ʼn groot uitdaging bied. Ek is van mening dat hierdie nuwe koöperatiewe benadering juis hierdie probleem sal aanspreek,” sê dr Ntombela en voeg by dat beide kommersiële en kleinboere ʼn belangrike rol speel in die produksie, prosessering en verspreiding van voedsel. Hy meen voorts dat, as ʼn eenheid, boere saam die uitdagings van ons tyd kan aanpak.