Ontmoet die nuwe BD van Hinterland




Februarie is beslis die maand vir die nuwe kaptein aan die stuur van Hinterland. Hierdie gesoute besigheidsman het amptelik op Maandag, 1 Februarie 2016, diens aanvaar. Twee weke later op Valentynsdag, Donderdag, 14 Februarie 2016, het hy en sy vrou Alet hul 29ste huweliksherdenking gevier en twee dae later, op 16 Februarie 2016, het hy sy 52ste verjaardag gevier.

Daan is in Pretoria gebore en het in Phalaborwa skoolgegaan, waar hy aan die Hoërskool Frans du Toit in 1981 gematrikuleer het.

Hy het sy Baccalaureus Pharmaciae-graad aan die Noordwes Universiteit behaal in 1987.  

Dit is ook nie sy eerste keer in Klerksdorp nie - hy het sy internskap by die Medi-Centre Apteek in Klerksdorp voltooi.  Hy was ook betrokke by die Health Smart aptekersgroep.  Daan en Alet het twee kinders, naamlik 'n dogter, Relandí (25) en 'n seun, Zurich (22).

Sy geskiedenis spreek boekdele - hy was betrokke by Clicks vir 'n dekade lank, waar hy uiteindelik as afdelingsbestuurder aangestel is.  He was ook deel van Massbuild vir die afgelope agt jaar, sedert 2008, waar hy die pos van gebiedsbestuurder beklee het.

Daan is sterk aanbeveel en, in sy eie woorde, hy het 'n passie vir die lewe en sukses. Hy glo in personeel en die belangrikheid van mense, aangesien resultate deur mense behaal word.

Hy beklemtoon dat hy baie gesteld is op alle aspekte wat verband hou met verantwoordelikheid.  “As ek iets gedoen wil hê, verwag ek dat dit behoorlik gedoen moet word.  En jy kan dieselfde van my verwag.” Hy wil 'n positiewe bydrae maak omdat hy 'n nalatenskap wil laat.

Van sy eerste take sal wees om strategieë te herbesoek en om met ander rolspelers by Hinterland te skakel.  Volgens hom sal 2016 veral uitdagend wees vir die landbousektor, maar hy is beslis gereed vir die uitdaging.