Op pad met Senwes Grainlink na Portugese eilande




Die prys is op Donderdag, 7 Junie, deur Pieter Malan, Uitvoerende Bestuurder by Senwes Grainlink, aan die wenner Adél en haar man Hansie oorhandig.

En dit deur slegs twee vrae by die Senwes Grainlink stalletjie van Nampo Oesdag 2018 te beantwoord. Klink dit maklik genoeg? Dink weer. Die eerste vraag was: Wat skat julle gaan die Nasionale Oesskatting vir wit- en geelmielies wees op 29 Mei 2018? En die tweede vraag was: Wat skat jy is die R/ton waarde indien ‘n produsent @18% vog (± twee weke vroeër) begin stroop sonder om drogingskoste te betaal? Adél se antwoorde was 12,8 en R103, antwoorde wat net 0.10861 (12.90861) en 48 sent (R103.48) van die ware Jakob was. En as boervrou kon sy gesê het dat sy wel geweet het maar die waarheid is dat sy “letterlik net geraai het” nadat haar dogter Janke haar oorreed het om die vir die kompetise in te skryf deur die twee vrae by die dubbelverdieping stalletjie by Nampo 2018 te beantwoord.

Hierdie prys sluit in retoerkaartjies vir twee vanaf enige lughawe in Suid-Afrika na King Shaka Internasionale Lughawe insluit, asook vervoer na die Durban hawe en terug en ‘n bootreis na die Portugese eilande wat vanaf 8 tot 12 November plaasvind. Na ‘n kort promosievideo vertel Adél dat sy baie opgewonde is oor die prys: “As ek net die see kan sien is ek gelukkig”. Dan sien hulle ook baie uit na al die aktiwiteite op die MSC Sinfonia. Die laaste keer wat hulle buite die land se grense was, was toe hulle Zimbabwe in 1999 besoek het.,

“Hierdie prys kom asof dit vir ons bedoel was,” sê Adel en verduidelik dat hulle gedurende die droogte in 2017 nie hulle 30ste huweliksherdenking behoorlik kon vier nie en na 31 jaar se getroude lewe gee sy die prys vir haarself en haar man. “Dit sou perfek wees as my dogter Janke kon saamkom,” noem Adél van hulle jongste spruit, wat ‘n matriekleerling by die Rooiskool in Kroonstad is. Die paartjie het ook ‘n seun Louis (26), ‘n landboukundige by Pannar in Bela-Bela, wat met Leandrie getroud is. Met Adél wat aan die kompetisie deelgeneem het, het Hansie die 3D-silo-ervaring terdeë geniet. Hy het immers jare terug bekendheid by Nampo verwerf deur die skaal op amper 180kg te laat stilstaan en jaarliks die prys gewen as die swaarste persoon by Nampo. Dit was voordat hy gewig verloor het en nou skaars die helfte van sy ou self is. Adel en Hansie woon op die plaas Weenen naby Senwes Grainlink se Losdoorns silo, sowat 20km vanaf Wesselsbron en 60km vanaf Bothaville.

Baie geluk Adél en geniet julle 30ste huwelsherdenking, al is dit so bietjie laat... van Senwes Grainlink.