Ottosdal Draf en Trap betree ‘n nuwe era – 26ste uitgawe in 2019




Met nagenoeg 4 083 sportlui en 11 000 besoekers wat vanjaar op die Noordwes dorpie toegesak het om aan die grootste gekombineerde sportgebeurtenis in die Noordweste deel te neem.

Vir die wat nie weet nie. Dit behels ‘n massiewe elf items wat drie bergfietsritte, vier padfietsritte asook vier padwedlope insluit afgerond met ‘n pasta-aand, basaar- en kampatmosfeer. Die bergfietse se afstande wissel van 20km, 40km en 60km. Die padfietsryers het ‘n keuse van vier afstande naamlik 10km, 20km, 40km en die moordende 84km en die padwedlope wat wissel van die pretloop van 5km, 10km vir die wat lekker fiks is en die 21.1km halfmarathon en die 42.2km marathon vir die meer ernstige atlete.


En bekendes is hier beslis. Vanjaar het die akteur David Louw van Getroud Met Rugby-faam, wat die laaste paar jaar die musiek behartig het, sy eerste Ottosdal 42.2km marathon voltooi. Dan was daar ook vyf fietsryers onder leiding van Michael Byleveld wat die afgelope paar jaar al die pad van Pretoria na Ottosdal fietsry om vir verskeie instansies fondse in te samel. Verlede jaar het selfs die Comrades legende Louis Massyn die wedloop bygewoon nadat hy ook die eerste vyf van 1994 tot 1998 voltooi het, hy spog met ‘n Comrades rekord, die meeste medaljes met 46 op sy kerfstok.

Die Draf en Trap het vanjaar ook nog stap in die toekoms in gegee met atlete se tye wat vir die heel eerste keer met elektronies skyfies geneem is wat aan die atlete se skoene vasgemaak was en hul tye, danksy Protime, baie vinniger beskikbaar sal wees. Voorwaar ‘n toekomsstap in die regte rigting. Dit nadat hulle in 2018 ook spesiale 25-jaar medaljes gedruk het om dié mylpaal te vier.  

Sekretaresse en organiseerder vir die afgelope 16 jaar, Willa Naudé voeg by dat hulle baie deur die jare gegroei het en ongelooflik dankbaar is vir die ondersteuning van alle organisasies, landboumaatskappye en borge wat in enige hoedanigheid by die Ottosdal Draf en Trap betrokke is. Hulle maak jaarliks reg vir meer as 3 500 atlete en 1 400 fietsryers. Die meeste atlete ooit was in 2016 toe 4 905 die naweek deelgeneem het. Die voorsitter Jaco Bamberger vertel ook dat dit ‘n eer is om die geleentheid vir die gemeenskap, atlete en fietsryers aan te bied.  

Senwes is ook trots om die volle 26 jaar deel van die Ottosdal Draf en Trap te wees deur as borg en ondersteuner saam met hulle deur die jare te groei. Welgedaan Ottosdal Draf en Trap!

2019 Draf en Trap Statistiek

Aantal inskrywings: 4 083
Aantal atlete: 2 694
Aantal fietsryers: 1 389
Deelnemers aan die verskillende items:
Bergfietsryers in totaal: 616 
20 km: 258
40 km: 233
60 km: 125

Padfietsryers in totaal: 773

10 km: 93
20 km: 128
40 km: 289
84 km: 263

Atlete in totaal: 2 694

5 km: 422
10 km: 1 448
21.1km: 470
42.2 km: 354

Tweekamp atlete in totaal: 276

Goud: 7
Silwer: 72
Brons: 197
 
*‘n Tragedie het afgespeel in die 40 km padfietsrit met die 66-jarige deelnemer Okkie Meintjes wat tussen die 10 km en 20 km vermoedelik aan ‘n hartaanval beswyk het. Volgens mededeelnemers het Meintjes van sy fiets geval nog voordat hulle die halfpadmerk, oftewel draaipunt bereik het met mediese personeel wat dadelik op die toneel was maar Meintjes is op die toneel oorlede. Meintjes van Garsfontein in Pretoria was ‘n bekende in hardloopkringe en ook lid van Pretoria Marathonklub. Naudé noem dat hy al vanaf 2009 aan die Ottosdal Draf en Trap deelgeneem het en was ook klaar ingeskryf vir die 10 km padwedloop later daardie aand om 18:40. Hy is die heel eerste deelnemer wat omgekom het in die geskiedenis by die Ottosdal Draf en Trap. Meintjes se vrou Gertjie het ook deelgeneem en is dadelik in kennis gestel. Meintjes is ook die oom van een van die plaaslike Ottosdallers, Hankie Coetzee. Meintjes se begrafnisdiens geskied Vrydag, 1 Februarie 2019 om 09:00 vanuit die Wapadrand Hervormde Kerk in Pretoria. Ottosdal Draf en Trap en Senwes dink aan sy familie in hierdie moeilike tyd.