Pandemie veroorsaak werkloosheidspaniek in SA

  • 26 Februarie 2021
  • 580
  • nuus



Dié kommerwekkende statistiek toon dat die land se amptelike werkloosheidskoers vir die vierde kwartaal van 2020 tot 32,5% opgeskiet het, teenoor die aangetekende 30,8% in die voorafgaande kwartaal. In wese verteenwoordig hierdie styging die hoogste werkloosheidskoers sedert 2008. In terme van die land se uitgebreide werkloosheidskoers, wat ontmoedigde werksoekers insluit, word die koers op 42,6% gereken.

Dit is verder bekend gemaak dat die aantal mense wat aktief werk soek, met 507 000 gestyg het in vergeleke met ʼn jaar gelede. Dit verteenwoordig ʼn styging van 7,5%. Tans soek 7, 233 miljoen mense aktief na werk. Ontmoedigde werksoekers het met 2,6% tot 2,93 miljoen mense gestyg. Hierdie statistiek sluit studente, tuisteskeppers, mense wat vroeg afgetree het of mense wat nie in staat is om te werk nie, uit.

Die impak van die pandemie het nie een van die land se ekonomiese sektore gespaar nie, en volgens Statistiek Suid-Afrika het die formele sektor 836 000 minder werknemers gehad, die informele sektor 397 000 minder, die landbou 75 000 minder en private huishoudings 89 000 minder. In terme van werksverliese, is die finansiële en sakedienste die swaarste getref met 256 000 poste wat in die slag gebly het, gevolg deur gemeenskapsdienste (241 000 poste) en die vervaardigingsektor (230 000 poste).

Volgens Statistiek Suid-Afrika is daar wel meer mense regoor al die sektore aangestel gedurende die vierde kwartaal, in teenstelling met die tweede kwartaal toe die strengste inperkingsvlakke van krag was.

Verhoogde minimum loon vir plaaswerkers nog rede tot kommer

Gegewe die data wat deur Statistiek Suid-Afrika bekend gemaak is, is georganiseerde landboustrukture baie bekommerd oor die impak wat die verhoogde minimum loon vir plaaswerkers op werkloosheidsvlakke binne die landbousektor sal hê.

ʼn Opname wat vroeër die maand deur Agri SA onder sy lede onderneem is toon dat meer as 4 300 plaaswerkers, hoofsaaklik seisoenale en ander tydelike werkers, waarskynlik hul werk sal verloor wanneer die verhoogde minimum loon op 1 Maart in werking tree.

Volgens Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van Agri SA, was 549 van sy lede van mening dat die verhoging van die nasionale minimum loon beteken dat hulle hul begroting vir lone in 2021 sal oorskry. Beskikbare data toon dat daar gedurende 2020 meer as R1,7 miljard vir lone begroot is en dat arbeidskoste teenoor omset vanjaar met tot 24% kan styg.

Die volgende resultate het ook na afloop van die voltooiing van die opname na vore gekom:

  • 456 lede het aangedui dat daar tussen hulle altesaam 4 384 werksgeleenthede weens die verhoogde minimum loon verlore sal gaan.
  • Arbeidsintensiewe substrukture sal na alle waarskynlikheid meganisasie oorweeg om arbeidskoste te bespaar en werksure (drasties) te verkort.

Van der Rheede voeg by dat die 16% verhoging in die nasionale minimum loon net een van die vele uitdagings is wat daartoe bydra dat produsente tans onder groterwordende finansiële druk verkeer. Ander uitdagings sluit in die beoogde verhoging in kragtariewe van 15%, stygende brandstofpryse en hoër watertariewe.

Die strewe na werkskepping duur voort

Van der Rheede meen dat ʼn minimum loon nie doeltreffend sal wees in die afwesigheid van ʼn holistiese benadering tot werkskepping en ekonomiese groei nie.

“Die behoefte aan landelike ontwikkeling om die lewensbestaan van plaaswerkers te verbeter word al groter en die hoop bestaan dat hierdie ontwikkelinge werknemers, en veral seisoenale werkers, in staat sal stel om baat te vind by meer diverse werksgeleenthede en verbeterde inkomstestrukture,” sê Van der Rheede.