Senwes gerat om by te dra tot brandhulp

  • 23 Oktober 2020
  • 2109
  • nuus



Dit is die mening van Francois Strydom, Senwes se Groep Uitvoerende Beampte, in reaksie op die verwoestende brande wat in groot dele van die Vrystaat en die Noord-Kaap gewoed het, en tot miljoene rande se skade aanleiding gegee het. Meer as 100 000 hektaar weiding is deur die vuur verswelg terwyl honderde stuks vee en wild ook in die slag gebly het.

Die Senwes Groep is toegewyd tot die ondersteuning van klante en die gemeenskappe wat deur hierdie brande geraak is. In die lig hiervan sal hulpverlening onder die vaandel van die AVC Food Umbrella-projek plaasvind en sal spesifieke reëlings in dié verband binnekort bekend gemaak word.

“Die AVC Food Umbrella-projek is in die lewe geroep juis met tye soos hierdie in gedagte: ʼn tyd waarin mense hoop én hulp nodig het,” sê Francois en verduidelik dat die projek so ontwerp is om derhalwe noodleniging aan kwesbare indivudue en gemeenskappe, ook die versorging van lewendehawe tydens krisistye in te sluit.

Gegewe die groot behoefte wat daar na die brande vir veevoer bestaan, word ʼn beroep vir bydraes gedoen wat via georganiseerde landboustrukture aan produsente wat deur die brande geraak is, versprei sal word. Skenkings kan gemaak word deur mielies by enige Senwes Grainlink silo op leweringsnommer 418688 te lewer met die verwysing #BrandHulp.

Kontant skenkings of bydraes in die vorm van ander kommoditeite kan ook gemaak word deur dit op die AVC Food Umbrella webtuiste by www.senwes.co.za/avc-food-umbrella in te lees, waarna ‘n verteenwoordiger van Senwes met u in verbinding sal wees.