Spilpunt in ʼn japtrap in kuierpunt omskep




Die twee vertel dat hulle eers ʼn gewone platform op Facebook gesien het, waarna hulle besluit het om die idee “na die volgende vlak te neem.” Oordeelkundig het die boerseuns eers die manne van Agrico gekontak, wat aan hulle die spreekwoordelike groen lig gegee het om die kuierplek te bou, met die voorwaarde dat niks aan die spilpunt vasgesweis mag word nie. Geen probleem vir hierdie broers wat by Kroonstad Hoërskool gematrikuleer het nie! Hulle het sommer dadelik aan die werk gespring en alles van hoekyster, ogiesdraad en rectangular tubing gebruik om die kuierarea mee te bou en alles maklik aan die spilpunt vasgebout.

Op die vraag oor hoeveel mense hierop kan kuier, kom die antwoord maklik. “Toe ons dit klaar gebou het, het 14 plaaswerkers op en af op die platform gespring en dit het die toets geslaag".

Hier bo-op die platform, wat meer as 4 meter bo die grond uittroon, kan jy lekker rustig wees. Die twee spot ook dat “Pa Gert hier bo lekker vir die mielies kan kyk. En as ons lui wil wees, kan ons van hier bo af hom gelukkig van ver sien aankom.”

Daar word oor naweke saam met familie en vriende gebraai. En as ‘n Senwester hier ʼn draai kom maak, soos hierdie joernalis, dan word jy na die spilpunt sowat 17 km ver geneem. Soos Andrew Weber, Sleutelrekeningbestuurder by Senwes en Phillip Havenga, Verhoudingsbestuurder by Bothaville, op 14 Februarie ook gedoen het.

Hier bo is dit baie rustig en die die geritsel van die wind tussen die mielies is hoorbaar. Daar is 'n pragtige uitsig oor die horison met Senwes se Regina Silo as deel van die landskap. Maar waar het die twee gebraai voor dié uitsonderlike braaiplek? Die braaier was sommer op die grasperk geparkeer of as hulle in die veld is, is enige oop kolletjie in die veld die lekkerste.

Met nege spilpunte op die plase Krugerskraal en Nederlanden, en nog drie in die beplanning, kan jy verseker wees dat die twee vierde-generasie produsente beslis nog een gaan bou en verbeterings gaan aanbring met ligte en yskaste, maar die vangskoot is dat hulle nie krag van die spilpunt mag trek nie.