Veldtog vier veerkragtigheid van aartappelbedryf




Optimisme en verkragtigheid staan sentraal tot dié bewustheidsveldtog en volgens ASA is hierdie eienskappe kenmerkend van die onbesonge helde wat van die aartappelbedryf ʼn sukses maak. Hierdie helde sluit produsente, verspreiders, verbruikers, informele handelaars en kleinhandelaars in.

Gegewe die feit dat die Verenigde Nasies vanjaar as die Internasionale Jaar van Groente en Vrugte verklaar het, meen ASA dat die #WhenHopeWhispers veldtog dié organisasie se globale strewe om die produksie van voedsel te prioritiseer, hongersnood te help verlig en armoede uit te wis, ondersteun.

Die veldtog sal ʼn hoogtepunt bereik op 5 Mei, wanneer die bedryf se eerste Staat van die Aartappelbedryf (SOPIA) aangebied sal word. Tydens hierdie geleentheid sal ASA se nuwe uitvoerende hoof, Willie Jacobs, ʼn volledige oorsig bied oor hoe die verbouing van aartappels en die aartappelwaardeketting kan help om die VN se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte te help realiseer.

Uitdagings onder die loep

Volgens Jacobs sal aspekte soos beleid, strategieë en die bedryf se toekomsvisie ook tydens SOPIA bespreek word.

Hy voeg by dat ten einde die impak van die aartappelbedryf te optimaliseer en so by te dra tot die plaaslike ekonomie, alle rolspelers hande moet vat en hulself opnuut verbind tot landbou sukses. In hierdie verband stel die #WhenHopeWhispers veldtog die bedryf in staat om deur die verhale en geuitenisse van diegene wat nie net die sosio-ekonomiese aanslag van die pandemie oorleef het nie, maar ook daarin kon slaag om te floreer, homself ten opsigte van huidige en toekomstige uitdagings te posisioneer.

Een so ʼn uitdaging is die informele sektor.

Jacobs verduidelik dat die bedryf, soos ander varsprodukte, tydens die streng inperkingsperiode in 2020 onder erge druk verkeer. Die gevolg was ʼn migrasie vanaf die tradisionele varsproduktemarkte na direkte verkope, ʼn tendens wat vandag aanhang geniet.

Die probleem met hierdie verskynsel is dat dit die informele sektor negatief beïnvloed omdat ongeveer 66% van die aartappels wat in hierdie mark verkoop word, van varsproduktemarkte afkomstig is. Op die keper beskou is hierdie mark verantwoordelik vir die gebruik van 36% van die totale jaarlikse aartappeloes.

 Ook hier speel die bewusmakingsveldtog ʼn rol deurdat dit ʼn platform bied vanwaar informele handelaars hul uitdagings kan deel. Hierdie uitdagings sluit nie net die Covid-19-pandemie in nie, maar ook wanpersepsies rakende kwaliteit en prysstrukture.

Nog ʼn aspek wat tydens SOPIA aandag sal geniet is die oorversadiging van die mark deur goedkoop Europese invoere, soos aartappelskyfies. Volgens Jacobs beïnvloed dié realiteit nie net marktoegang nie, maar het dit ook ʼn direkte impak op werkverskaffing en ekonomiese groei.