Ware Geluk - Meiring dra Bultfontein op die hart




Wat is ware geluk? Dit bly soms ʼn onbeantwoorde vraag vir soveel mense. Die elemente van geluk is egter duidelik te sien op die plaas Geluk, wat behoort aan Herman Meiring, Voorsitter van die Bultfontein Distrikslandbou-unie.
 
Herman, wat pas 51 jaar oud geword het, boer op 500 hektaar en benewens mielies, boer hy ook met skape, beeste en varke. Bykomend huur hy ook sowat 340 hektaar op Plessisdraai. As trotse vierdegenerasieprodusent naas Oupas Albertus en Charles en Pa Albertus is Herman aan die stuur van sake op dié plaas.  Hy boer die afgelope 28 jaar, sedert 1988, al hier.
 

Droom

Sy droom is om by die definisie van geluk uit te kom. Jan Pienaar, Tesourier van Vrystaat Landbou, vertel dat Herman se visie nie net op homself gesentreer is nie. Dit is die kruks van Herman, perfek in een enkele sin omskryf. In sy eie woorde is boerdery vir hom ‘n voorreg - dit is 'n plesier om met sy hande in die grond te kan werk en ‘n sukses daarvan te kan maak.
 

Sy trots

Sy familie is sy trots en hy en sy vrou Tertia is reeds 28 jaar getroud. As ‘n man wat nie sy eie beuel blaas nie, stap Herman uit sodat Tertia hom kan beskryf. “’n Man wat altyd sy hulp aanbied, al benadeel hy homself.” Hulle spot dat hulle eintlik hul hele lewe lank al saam is want hulle is in dieselfde hospitaal gebore, slegs vier dae uitmekaar. Hulle kroos bestaan uit Anneke, Aletia en Darien en sommer gou voeg hulle Dirk Gouws, ‘n produsent van die distrik, se naam by. Hy is met Anneke getroud. "Hulle is ons kinders. Ek sê graag hier dankie vir my vrou en kinders. Hulle kom gewoonlik tweede met die ‘sport’ waarmee ons besig is".
 

Die hele Bultfontein

Naas die familie is die hele Bultfontein distrik op sy hart. Soos jy deur die Bultfontein area navraag doen, kom jy agter Herman is waarlik soos ‘n pa vir die gemeenskap. Iemand wat uitkyk vir hulle. G’n wonder dat Herman, saam met nog 'n paar ander, op ‘n stadium 52 projekte gelyklopend bedryf het. Onder hierdie tel die lughawe, paaie en die Boertjiefees beslis.
 

Samewerking

Herman voeg by dat mens niks sonder samewerking en kommunikasie kan regkry nie. Hy glo daaraan om oral  betrokke te wees. Hy was vanaf 2008 tot 2012 die Voorsitter van die Bultfontein Distrikslandbou en in April 2016 is hy weereens tot die amp verkies. Samewerking en kommunikasie van bo tot op grondvlak sorg dat die regte seine uitgestuur word. Hy organiseer sommer vinnig ‘n samekoms. Hoekom? “Een ding het ek geleer. Mens praat altyd saam met mense, mens praat nie alleen nie.”
 

Werkers

Sy deernis met die hele Bultfontein syfer ook deur na sy werkers. Na talle mense werk kom soek het, het Herman in 2015 besluit om ‘n werkskeppingsprojek van die grond af te kry. Dit is ‘n plaashekprojek waarby ‘n hele paar werkers betrokke is. Die manne is baie gelukkig hier op Geluk en kry behuising, 'n salaris en ‘n kommissiestelsel is ook van krag. Herman noem dat die projek tans, vanweë die droogte, meesal op 'n bestellingsbasis werk, alhoewel hulle besig is om reg te maak vir die mark wanneer die landbousektor weer sy kop oplig - hy wil graag hier ook met Senwes saamwerk. Herman is al sedert 1988 as lid by Senwes betrokke en doen sy aankope deur Senwes.  Die Landboudiensteafdeling doen ook kartering vir Herman.
 

Herman staan altyd op

Geanker in sy geloof het Herman al donker tye in boerdery beleef, maar die gemeenskap is wonderlik hier in Bultfontein waar mense mekaar probeer help.
 

Die droogtetyd

Herman vertel dat die droogte “‘n ou maar terugsit.” Hy was self al desperaat toe hy in 2002 ‘n veiling gehou het en alles moes verkoop. Juis as gevolg daarvan het hy besluit om sy risiko's te verlaag deur nie te plant nie. ”Ek het my strategie aangepas en meer op vee gekonsentreer.”
 
Hy wys daarop dat 'n mens so dikwels hoof dat droogte net deel van ‘n siklus is. “Dit kan dalk net ‘n siklus wees, maar ek glo daar is ‘n boodskap in die siklus. Die droogte is ook ‘n siftingsproses".
 

Gebalanseerd

Soos ek deur die Meiring huis loop, besef ek gou dat gebalanseerdheid nog ‘n g-woord is wat na Geluk lei. Herman het ‘n massiewe gimnasium, wat hy self gebou het, waar hy en ‘n paar ander produsente so drie maal ‘n week saam oefen met jag en visvang wat ook deel van sy passie is.
 
Voor ek loop het die stewige boer nog ‘n laaste brokkie raad. “Doen dinge nou, eendag kom nooit. Dit wat jy nou doen moet jy ook geniet.”

So is Herman besig om geluk te vind op die plaas Geluk deur elke dag voluit te leef.