Agbiz | Saam kan inklusiewe groei bewerkstellig word

  • 18 Februarie 2022
  • 991
  • nuus



“Agbiz sien daarna uit om met die regering en ander maatskaplike vennote te skakel om die volhoubaarheid en groei van die sektor, landelike ekonomie en die algehele ekonomie te verseker,” sê Theo Boshoff, Agbiz se uitvoerende hoof.

Hy beklemtoon dit egter dat dié momentum nou met aksie opgevolg moet word. “President Ramaphosa se 2022-staatsrede is belaai met herstelplanne vir die land se ekonomie, maar die regering se beleidsomgewing maak die uitvoering van dié planne onseker.”

Volgens Francois Strydom, Agbiz se voorsitter, is ʼn bemagtigende omgewing vir ondernemings nou van kardinale belang om beleggers te lok, wat probleme soos werkloosheid en lae ekonomiese groei sal oplos.

“Ons het al voorheen soortgelyke idees gehoor, maar die fokus op energiesekerheid deur gedesentraliseerde kragopwekking, belegging in hawe-infrastruktuur en om derdeparty-operateurs by die spoorweë te betrek, wys dat die sakesektor se bekommernisse op die hoogste vlak aangehoor word,” sê Strydom. Hy voeg by dat die groei-uitdaging in Suid-Afrika beduidend is en dat die landbousektor gereed en gewillig is om ʼn vennoot van die regering te word ten einde hierdie inisiatiewe verder as blote retoriek te neem en dit te vertaal tot aksie.

Boshoff meen die fokus op infrastruktuur is veral opvallend en verblydend, aangesien ʼn groot deel van Suid-Afrika se landbouprodukte per pad vervoer word. “Net soos ons daarna streef om landbouproduksie uit te brei en inklusiwiteit in die sektor ʼn hupstoot te gee, het ons dieselfde fokus op energie en logistiek nodig”.