Bek-en-klouseer | Meer as 50 gevalle aangemeld

  • 14 April 2022
  • 1175
  • nuus



Die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, sê die land se tientalle uitbrekings van bek-en-klouseer is hoofsaaklik veroorsaak deur ontwettige bewegings van diere uit siektebestuursgebiede in Limpopo.

Volgens die minister is ʼn 49-jarige verdagte by die Masisi in die Vhembe-distrik van Limpopo in hegtenis geneem nadat hy bokke van die beheerde sone na die vrye sone gebring het. Nog ʼn saak, waarin diere onwettig van ʼn siektebestuursgebied na veilings in twee onderskeie provinsies verskuif is, word ook intussen ondersoek.

Altesaam sewe gevalle van bek-en-klouseer op plase in Gauteng, Noordwes en die Vrystaat spruit voort uit ʼn veiling wat verlede maand naby Potchefstroom aangebied is. In KwaZulu-Natal is ʼn verdere twee besmette diptenks in die Groot 5 Hlabisa-plaaslike munisipaliteit en die Jozini-plaaslike munisipaliteit gevind. Altesame 43 diptenks het in dié provinsie besmet geraak sedert die siekte die eerste keer in Mei verlede jaar bevestig is.

Volgens die minister is alle besmette plase, diptenks en ander persele in die vyf geraakte provinsies onder streng kwarantyn geplaas en geen gesplete hoefdiere word toegelaat om van hierdie plekke af te beweeg nie. Dit word ook benadruk dat diegene wat diere onwettig verskuif, vervolg sal word vir oortreding van die Wet op Dieresiektes.

Voorkomingsmaatreëls

Die minister meld in ʼn persverklaring wat in hierdie verband uitgereik is, die volgende voorkomingsmaatreëls:

  • Kom alle veeartsenykundige bewegingsbeperkings na.
  • Ken die gesondheidstatus van diere waarin jy belê.
  • Koop slegs diere wat van bekende en bewese bronne afkomstig is.
  • Dring aan op ʼn gesondheidsverklaring van ʼn veearts voordat diere na jou plaas gebring word.
  • Indien jy twyfel, versoek ʼn gesondheidsverklaring van die verkoper se veearts.
  • Hou die nuwe aankomelinge op jou plaas apart van jou diere vir minstens 28 dae, totdat jy tevrede is dat hulle gesond is.
  • Moenie diere skuif wat tekens van siekte toon nie.
  • Moenie diere van onbekende oorsprong aankoop nie.
  • Moenie diere koop wat afkomstig is van bekende besmette gebiede nie.
  • Vermy die koop van diere op veilings waar diere van verskillende oorspronge byeenkom, veral as dit nie bedoel is vir onmiddellike slag nie.