Bek-en-klouseer nou ook in Gauteng bevestig

  • 08 April 2022
  • 1120
  • nuus



Volgens Landbou.com is die siekte endemies in die ooste van Suid-Afrika, maar dit kom al hoe meer verder wes voor. Dit veroorsaak groot kommer by dieregesondheidsowerhede, produsente en verwerkers van produkte van diere met gesplete hoewe.

ʼn Verklaring deur die Gautengse departement van landbou en landelike ontwikkeling stel dit dat die uitbreking van bek-en-klouseer op ʼn plaas in die Randfontein-distrik bevestig is. Nog moontlike gevalle van die siekte word ook in die distrikte Tarlton, Fochville, Wallmansthal en Onderstepoort ondersoek.

In die verslag word dit gestel dat die veeartsenykundige dienste van Gauteng alle maatreëls moontlik tref om die verspreiding van die siekte te beperk en dat die bekaming van sulke aansteeklike virussiektes ‘n gesamentlike verantwoordelikheid is van alle belanghebbendes in die veebedryf. Boere word vorts gemaan om ekstra waaksaam te wees vir tekens van bek-en-klouseer by hul vee en alle verdagte gevalle moet onmiddelilik by veeartsenydienste aangemeld word.

Boere word aangeraai om nie vee te koop by verkopers wie se dieregesondheidstatus onbekend is, of van bek-en-klouseerbeheergebiede nie. Op hul beurt word vee-afslaers versoek om versigtig te wees om vee op hul persele te aanvaar.