Belowende plantseisoen wag op saaiboere

  • 06 November 2020
  • 2031
  • nuus



Volgens Francois Strydom, Groep Uitvoerende Hoof van Senwes, is die verkope van saad, kunsmis, kalk en selfs werktuie hoër as ʼn jaar gelede. Dié verkope kan as ʼn leidende aanwyser beskou word vir die komende seisoen en die styging dien voorts as ʼn redelike akkurate aanduiding dat boere beoog om meer te plant as ʼn jaar gelede.

Dié vooruitsig stem ooreen met die syfers wat deur die Nasionale Oesskattingskomitee bekend gemaak is, en wat daarop dui dat kommersiële boere in die somerreëngebied van voorneme is om 5,81% meer mielies en 11,4% meer sojabone te plant.

Francois skryf hierdie gewaarwording toe aan die feit dat produsente gewoonlik sterk reageer wanneer die winsgewendheid van ʼn graansoort styg, soos nou met witmielies die geval is. In vergeleke met vyf maande gelede, is die prys met tussen R400 per ton en R500 per ton hoër. Die prys van oliesade teenoor witmielies lyk ook heelwat gunstiger as ʼn jaar gelede en indien dit goed reën, sal produsente ook heelwat meer sojabone en sonneblom aanplant.