Brandstofprysskok wag vir Jan Publiek in November

  • 22 Oktober 2021
  • 1358
  • nuus



Die swak rand en die skerp styging in internasionale oliepryse dra tot ʼn onderverhandeling van bykans ʼn R1 per liter op petrol en sowat R1,42 per liter op diesel by. Hierdie syfers weerspieël die situasie soos op Donderdag, 14 Oktober, wat beteken dat dit die toon aangee vir die eerste helfte van die vierweke-oorsigtyd.

Dié oorsigtyd duur tot en met 28 Oktober wat beteken dat die finale syfers nog heelwat kan verander. Met so ʼn groot onderverhandeling is die kans egter baie skraal dat daar goeie nuus op verbruikers wag.

Brandstofpryse sal op Woensdag, 3 November verander.

Hiermee die volledige lys onderverhandelings, soos op 14 Oktober:

  • 95-oktaan-petrol: 98 c per liter
  • 93-oktaan-petrol: 96 c per liter
  • Diesel (0,05% swael): 141 c per liter
  • Diesel (0,005% swael): 142 c per liter
  • Paraffien: 142 c per liter

Bogenoemde syfers is afgerond en die onderverhandelings vir diesel is op die groothandelprys gegrond, aangesien die kleinhandelprys van diesel nie gereguleer word nie.

Gegewe die verwagte styging is dit voorts hoogs onwaarskynlik dat die balansfondsheffing van 13,16 c per liter gaan wegval. Dit kan wel aangepas word en soos sake nou staan, dalk selfs verhoog word. Die balansfonds het einde September ʼn enorme negatiewe balans van R1, 379 miljard gehad wat nog weggewerk moet word tot minder as R250 miljoen.

Die balansfonds is die fonds waaruit brandstofmaatskappye vergoed word indien die prys waarteen hulle brandstof aankoop, in die maand styg nadat die brandstofpryse vir daardie maand reeds vasgestel is.

* Derik Wolmarans, besturende direkteur van Hinterland Fuels, raai produsente aan om voor die planttyd begin en die prysverhoging in werking tree hul brandstofvoorrade aan te vul.