Dag van Verootmoediging

  • 23 Januarie 2020
  • 2432
  • persverklaring



“Die landbousektor is een van die primêre sektore van die land, wat ‘n rol kan speel om die ekonomie te stimuleer om te groei,” sê Pierre Vercueil, Agri SA President. “Die sektor beleef tans verskeie uitdagings, wat gepaardgaan met politieke- en beleidsonsekerheid oor onder andere grondhervorming en wysiging van artikel 25 van die Grondwet. Die droogte in die westelike-, en Karoogedeeltes van die land het verder ‘n negatiewe impak op die oorlewingsvermoë van talle boere- en plaaswerkergemeenskappe in die streke.”
 

‘n Suksesvolle kommersiële landbousektor moet, soos deur die Nasionale Ontwikkelingsplan verlang word, bydra om ekonomiese groei, ontwikkeling en werkskepping te stimuleer. Daarmee saam speel die sektor ook ‘n rol in die bevordering van die land se sosio- maatskaplike doelwitte en produseer tans nog genoegsame voedsel vir die groeiende bevolking, benewens verskeie onsekerhede wat bestaan.
 
“Ons land staan die jaar voor verskeie uitdagings; om ekonomiese groei te bevorder, werksgeleenthede te skep, korrupsie bloot te lê, beter dienslewering en die veiligheid van mede-landsburgers te verseker,” sê Vercueil. “Onder hierdie omstandighede en ook met die knellende droogte wat in sekere gedeeltes van die land heers, sal die landbousektor steeds voortgaan om sy rol te vervul.”
 
Daar heers dankbaarheid in groot gedeeltes van die land wat goeie reënneerslae ontvang het. Daar is egter ander dele wat steeds erge droogte ervaar, wat daartoe lei dat mens en dier swaarkry en sukkel om te oorleef.
 
“Dit is veral nou die tyd om op nuut as mede- gelowiges in alle denominasies en gelowe na mekaar uit te reik. Suid-Afrikaners leef in sensitiewe en moeilike tye.”
 
Agri SA doen ‘n beroep op alle gelowe, kerke en hulle lidmate om eerskomende Vrydag, 24 Januarie 2020 tussen 13:00 – 14:00, waar dit vir mede-landburgers gerieflik is, vir die volgende voorbidding te doen:
 
1. Vir die regering om die regte politieke besluite in belang van die land en die ekonomie te neem.
2. Vir reën in die gebiede wat tans erge droogte ervaar, maar ook dank te betuig vir goeie reënneerslae waar dit voorgekom het.
3. Vir goeie landboutoestande die jaar.
4. Vir mede-landsburgers se veiligheid, asook die veiligheidstoestand op plase.
 
Agri SA se strewe is dat landsburgers mekaar se regte moet respekteer, goeie waardes bevorder en in ‘n gees van nasiebou ondersteunend tot mekaar sal optree. Agri SA hoop dat met die versoek vir verootmoediging, dit landsburgers nader aan mekaar sal bring. 
 
Navrae:          
Pierre Vercueil
President: Agri SA
(S):  082 524 8636

Cornie Swart
Voorsitter: Agri SA Algemene Sakekamer
(S): 082 927 7698