Gevreesde perdesiekte in die Kaap aangemeld




Geen perde, donkies of sebras sal gevolglik sonder ʼn permit van die Wes-Kaapse departement van landbou se veeartsdienste toegelaat word om die gebied te verlaat, te betree of daardeur te beweeg nie. Alle navrae in terme van dokumentasie en aansoekvorms vir permitte, met betrekking tot die beheergebied, kan gerig word aan info@myhorse.org.za, terwyl algemene navrae gerig moet word aan dr Chanel Lombard, die staatsveearts verantwoordelik vir die Cederberg-munisipaliteit en die huidige beheergebied. Skakel dr Lombard by 027 213 3106 of stuur ʼn e-pos na chanelL@elsenburg.com.

Meer oor dié siekte

APS word as die ernstigste siekte onder perde in die wêreld beskou, en dra nie net by tot die dood van werk- en sportdiere nie, maar het ook ʼn beduidende finansiële impak as gevolg van uitvoerbeperkings op die perdebedryf.

Die APS-virus word na die perd oorgedra deur klein, bloedsuiende muggies (Culicoides spp) wat hoofsaaklik in die laatsomer en herfs voorkom. Warm, vogtige klimaatstoestande begunstig die uitbroei van dié muggies, wat skemeraande en snags aktief is en in groot getalle in laagliggende dele in vleie en rondom panne en damme waargeneem word.

Daar kan tussen vier soorte van APS onderskei word, naamlik: perdesiektekoors, dunkop, dikkop en ’n kombinasie van die twee.

  • Perdesiektekoors

    Perdesiektekoors verteenwoordig ʼn matige vorm van die siekte en word gekenmerk deur ʼn verhoogde koors wat vir een tot ses dae duur.

    Hierdie perde se weerstand verlaag en hulle is meer vatbaar vir ʼn opvlamming (terugval) van galkoors. So ʼn toestand kan foutiewelik gediagnoseer word as ʼn terugval van perdesiekte tydens die hersteltydperk gedurende perdesiekte.

  • Dunkop

    Dunkop verteenwoordig die ernstigste vorm van die siekte, en het ʼn sterftesyfer van 90%. Perde wat hiermee besmet is toon ʼn hoë koors van 39° tot 40° C en ervaar asemhalingsprobleme. ʼn Afskeiding van die neus, wat met ander simptome van longontsteking gepaard gaan, is ook aanwesig. Besmette perde vrek gewoonlik so vinnig as 24-uur na die aanvang van koors.

  • Dikkop

    Die sterftesyfer is ongeveer 50%, en die volgende simptome is aanwesig: koors, swelling van die kop en oë, ʼn verlies aan slukvermoë, kolieksimptome en bloeding van die mond- en oogmembrane. Dikkop het gewoonlik ʼn stadiger vrekte tot gevolg, met besmette perde wat vier tot agt dae na die aanvang van koors vrek.

  • Gekombineerd
    Perde met die gekombineerde tipe toon simptome wat algemeen by beide dun- en dikkop voorkom. Volgens die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid word dié sterftesyfer tussen 70% en 80% gereken.