Goeie neerslae laat SA damvlakke styg

  • 22 Januarie 2021
  • 1901
  • nuus



Die departement het onlangs by wyse van ʼn persverklaring aangekondig dat damvlakke gemiddeld vanaf 69,7% tot 72,2% gestyg het. Dié styging verteenwoordig ʼn 13% toename teenoor dieselfde tydperk verlede jaar, toe die gemiddelde vlakke op om en by 59,5% vasgestel was.

Volgens die departement is die totale volume water wat tans in reservoirs gestoor word, ongeveer 23 101,2 kubieke meter (80%). Die afgelope week se swaar reën het dié vlakke in die Vrystaat vanaf 82,3% na 86,6% opgestoot.

Provinsiale oorsig

Oos-Kaapse damme is ook besig om vinnig voller te raak, en die aangetekende vlakke het van 51,7% tot 52,5% gestyg. Dit verteenwoordig ʼn 7% toename in vergeleke met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar toe damvlakke, as gevolg van die uitgerekte droogte, slegs 46% was.

Op 98,9% is die damme in die Noord-Kaap op die punt om hul volle kapasiteit te bereik, en het die provinsie se watersituasie, in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar, aansienlik verbeter. Damvlakke in die provinsie het in 2019 op 77,8% gestaan.

Die Wes-Kaap, ʼn winterreënvalgebied, se damvlakke toon ʼn afname. Damvlakke is hierdie week op 69,4% vasgetel vanaf die vorige aangetekende vlak van 71%. Dié syfer verteenwoordig egter steeds ʼn verbetering in vergelyking met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar toe die vlakke op 59,5% was.

Damvlakke in Gauteng neem stelselmatig toe en het gedurende die begin van die maand vanaf 96% tot 96,4% toegeneem. Die Bronkhorstspruitdam in die ooste van Pretoria staan tans op 90.8%, terwyl Bon Accorddam in die noorde van die stad van 105,4% tot 139,3% gestyg het.

In Mpumalanga word die stand van damme as stabiel beskryf, en is ʼn toename vanaf 66,4% na 67% aangeteken. Die Magugadam op die grens met Mosambiek is tans slegs 36,4% vol, terwyl die Inyakadam in Bushbuckridge vanaf 51,8% tot 53,2% toegeneem het.

Damme in Limpopo is tans 59,9% vol, maar damvlakke in die Mopani- en Waterberg distrikte is nog laag.

In KwaZulu-Natal is damvlakke ook stabiel, hoewel die kusgordel baie voordeel getrek het uit die onlangse neerslae.

SA se grootste waterstelsel

Die grootste en mees kritieke stelsel in die land, naamlik die geïntegreerde Vaalrivierstelsel, toon bemoedigende tekens van herstel. Die Bloemhofdam het vanaf 102,3% na 107,4% toegeneem, terwyl die Vaaldam nou op 65,3% staan, teenoor die laaste aangetekende vlak van 56,7%.

Waarskuwing

Die stygende vlakke van die Vaal- en Oranjerivierstelsels, deels as gevolg van die swaar invloei van water vanaf Namibië, het die departement genoodsaak om ʼn vloedwaarskuwing uit te reik. Mense wat naby dié rivierstelsels woon is gevra om versigtig te wees vir die stygende vlakke en die alle vee uit laagliggende gebiede te verwyder, terwyl aktiwiteite soos swem of visvang ook belet word.