Goeie neerslae spoedig moontlik vir somerreënstreek

  • 01 Oktober 2021
  • 3959
  • nuus



Volgens Van den Berg kan neerslae van 50 mm en meer vanaf Woensdag, 29 September tot ongeveer 7 Oktober verwag word oor die noordelike dele van die Oos-Kaap, bykans die hele KwaZulu-Natal en die aangrensende dele van Mpumalanga.

Hierdie neerslae kan verder uitbrei na die sentrale binneland.

Neerslae van 20 mm of meer kan ook tot en met 5 Oktober oor die Tuinroete en langs die kus van die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal uitsak.

Plekke soos Vrede, Reitz, Potchefstroom, Delmas en Groblersdal kan volgens Van den Berg meer as 20 mm reën verwag in die eerste week van Oktober, terwyl ligte neerslae van 10 mm of meer in die noorde, weste asook die suidelike aangrensende dele kan voorkom. Hierdie dele sluit onder meer Lichtenburg, Bloemfontein, Kimberley, Brits en Bothaville in.

Baie min reën word verwag oor die westelike en suidwestelike binneland op plekke soos Upington, Pofadder, Williston, Van Zylsrus en Kuruman.

Van den Berg verduidelik dat op toestande gunstig is vir reën oor die langer termyn, veral gedurende midsomer. Die rede hiervoor is die ontwikkeling van ʼn La Niῇa-verskynsel en gunstige toestande in die Indiese Oseaan.

Volgens beskikbare weermodelle gaan baie warm toestande oor die noordwestelike en westelike dele van die land en die noordelike dele van Namibië voortduur, met temperature van 35 °C en hoër. Temperatuurdalings kan voorkom oor die sentrale tot suidelike dele van die land vanaf 30 September, wanneer bewolkte toestande met reën kan heers.

Minimum temperature van so laag as 2 °C met ligte ryp is moontlik oor die noordwestelike dele van die Oos-Kaap, in plekke soos Barkly-Oos en Aliwal-Noord rondom 4 tot 6 Oktober.