Grootste koringoes in 18 jaar verwag

  • 22 Januarie 2021
  • 1838
  • nuus



Dié oes sal na alle waarskynlikheid die grootste koringoes sedert 2002 wees, met die meeste van die koring, 52%, wat in die Wes-Kaap geproduseer word. Die Vrystaat sal 20% lewer en die Noord-Kaap na verwagting 13%.

Moutgars

Die produksieskatting van moutgars is met 0,46% afwaarts aangepas tot 550 246 ton. Die totale oppervlakte onder gars is 141 690 hektaar en teen ʼn verwagte opbrengs van 3,88 ton per hektaar sal dit ook die Suid-Afrikaanse rekordboeke herskryf.

Kanola

In pas met die vooruitskattings van koring en moutgars, gaan die beraamde kanola-oes, wat deur die NOK met 10% opwaarts aangepas is, ook die grootste ooit wees. ʼn Beraamde 163 256 ton word verwag en daar is na raming sowat 74 120 hektaar onder kanola. Die verwagte opbrengs is 2,20 ton per hektaar.

Hawer

Die verwagte haweroes vir ontbytgraan is onveranderd gelaat op 47 400 ton. ʼn Beraamde 26 200 hektaar is onder hawer en die verwagte opbrengs is 1,81 ton per hektaar.

Somergraan

Teen 11 Desember 2020 was die geskatte mielieoes reeds op 14 046 584 ton beraam. Hiervan sal 8,7 miljoen ton witmielies en 6,7 ton geelmielies wees.

In terme van die bemarkingsjaar, wat in April 2021 tot ʼn einde loop, is 635 845 ton witmielies reeds uitgevoer, die meeste hiervan na Zimbabwe (198 000 ton) en Mosambiek (98 000 ton). Ongeveer 1,2 miljoen ton geelmielies was reeds teen die middel van Desember 2020 uitgevoer, die meeste na Taiwan (323 000 ton) en Viëtnam (106 000 ton).

Die voorneme is egter om ʼn verdere 170 000 ton mielies tot en met die eerste week van Februarie uit te voer.