Hoe maak ek my jaggeweer meer akkuraat?




Kom ons kyk na knaldempers. Meeste van my generasie skuts (ek bedoel aan die verkeerde kant van veertig), is nie baie gemaklik met knaldempers nie. Hulle ken dit nie en tweedens het hulle grootgeword daarsonder. Ons glo ook 'n jaggeweer moet 'n houtkolf hê en nie 'n sintetiese kolf nie.
 
Maar kom ek stel julle gerus - knaldempers werk. Dit is die moeite werd om te verander, al is dit nie altyd lekker om my spoggeweer se loop te laat skroefdraad-sny nie. 
 
Die eerste ding van knaldempers is dat dit nie klink soos in die movies nie, veral nie die James Bond movies nie. Goeie knaldempers demp die klank met 20-25 desibel. Maar saam met dit verminder dit die terugslag van die kaliber. En dit is die lekker deel van 'n knaldemper. Dit maak jou groter kalibers se terugslag meer hanteerbaar wat baie lekker is, byvoorbeeld die 300 Win Mag.
 
Knaldempers het niks te doen met die akkuraatheid van die wapen nie. Die meeste skuts skiet beter maar dit het te doen met die terugslag van die geweer, wat nou minder is. 

Ek het 'n eksperiment met my 308 gedoen. Chris Hendrik, 'n goeie vriend van my se seun, is skietmal soos ek (hy is 13 jaar oud). Hy het met die 308 op 300 meter na die springboktabel geskiet, sonder 'n knaldemper. Uit die drie skote was een 'n doodskoot en die ander... wel ons sou die bok moes gaan soek.
 
Met die tweede rondte het hy met die knaldemper op geskiet. Al drie skote was doodskote.  Nie oor die meer gedempte klank nie maar oor die verminderde terugslag. So, daar is definitief plek vir knaldempers op die skietbaan en in die jagveld.
 
Maak seker julle kry die regte knaldempers. Jy kry knaldempers wat van staal en van aluminium gemaak is. Gewig speel hier 'n rol - kyk mooi wat vir jou die beste is. Vermy die man in die motorhuis wat by 'n braai vir jou sê dit kan nie te moeilik wees om een te maak nie.
 
Glo my, daar gaan baie tegnologie en werk in goeie knaldempers in. Die belangrikste is hoe dit op die loop gesit word. Dit bepaal of die knaldemper gaan werk of nie. 90% van die  gevalle waar skuts hul vertroue in knaldempers verloor het, is weens die feit dat die knaldemper nie perfek op die loop aangebring is nie. Die sny van die skroefdraad is baie belangrik omdat die knaldemper dan 'n verlenging van die loop is.
 
Kry dus 'n goeie geweersmid om die opsitwerk te doen (skroefdraad te sny) - dit gaan maak dat die knaldemper werk of nie.
 
Slotsom, as jy nog nie 'n knaldemper probeer het nie, gaan probeer dit gerus. Jy gaan aangenaam verras wees en ja, jy raak gewoond aan jou jaggeweer wat nou anders lyk. Jy gaan ook beslis beter skiet.
 
Hinterland Wapens verkoop 'n baie goeie reeks knaldempers - skakel hulle gerus. En soos die man van Potch sê, bewe raak.

Lekker skiet Jaco Kruger het sy nasionale kleure in Benchrest skiet verwerf en het sy land verskeie kere verteenwoordig. Hy is ook ‘n aktiewe SA Jagterslid.