Hoenderbedryf verwelkom die verlenging van teenstortingstariewe

  • 03 September 2021
  • 1362
  • nuus



Hierdie teenstortingstariewe, wat reeds sedert 2015 van krag is, verval volgens ʼn afloopklousule na vyf jaar, tensy Itac die verlenging daarvan vir nog vyf jaar hersien.

As die departement van handel en nywerheid hierdie aanbeveling aanvaar, sal Europese hoenderstorters vir die volgende vyf jaar aan streng invoertariewe onderwerp word. In die geval van Duitsland sal ʼn teenstortingstarief van 73,33% gehef word, terwyl die tarief vir Nederland op 22,1% vasgestel is en op 30,09% vir Brittanje.

Volgens die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) is hierdie tariewe baie minder as waarvoor die vereniging in sy hernuwingsaansoek gevra het. In dié aansoek is daar gevra vir ʼn teenstortingstarief van 307% op die snitte uit Duitsland, 176% vir dié uit Nederland en 92% vir dié uit Brittanje. Ten spyte hiervan is die vereniging verheug dat sy aansoek om hernuwing van die tariewe goedgekeur is.

Volgens Izaak Breitenbach, hoof van die SAPV se braaihoenderorganisasie, staar die plaaslike bedryf die bedreiging van hernieude storting in die gesig wat die potensiaal het om Suid-Afrikaanse produsente se inkomste te verwoes, transformasie te verlangsaam en werksgeleenthede onder druk te plaas.

Itac het in sy ondersoek na die hernuwing van die tariewe ook bevind dat as die teenstortingstariewe afgeskaf sou word, daar ʼn sterk moontlikheid sal wees dat storting ten koste van die plaaslike bedryf sal voortduur.