Inskrywings vir SA Suiwelkampioenskap eersdaags ingewag

  • 17 Desember 2021
  • 1146
  • nuus



Dié kampioenskap lok jaarliks sowat 900 inskrywings van groot, middelslag en klein vervaardigers wat almal mee ding om onder meer die titel as SA kampioen, die Qualité-merk van gehalte en die Produk van die Jaar.

Volgens Johan Ehlers, uitvoerende hoof van Agri-Expo, is die doel van die kampioenskap om uitnemendheid in die plaaslike suiwelbedryf te erken en te bevorder en word almal van internasionale maatskappye tot agripreneurs uitgenooi om hulself jaarliks teen mekaar te meet. Die kampioenskap word in meer as 100 klasse bepaal, naamlik kaas, jogurt, melk, room, roomys, botter en ander produkte.

Só word die kampioene aangewys

Die wenners in die onderskeie klasse word as SA kampioene bekroon, terwyl produkte van uitsonderlike gehalte, wat ʼn spesifieke minimum punt op die internasionale telkaart behaal het, die Qualite-merk van gehalte ontvang. Hierdie toekenning word deur die bedryf erken as die enigste merk van gehalte.

Na afloop van die eerste rondte beoordeling deur sowat 60 beoordelaars wys ʼn onafhanklike paneel van vyf kundiges die Produk van die Jaar aan.

Aanlyn inskrywings open op Maandag, 10 Januarie op www.cheesesa.co.za en die sluitingsdatum vir inskrywings is Dinsdag, 1 Februarie.

Beoordeling vind plaas vanaf 24 tot 25 Februarie en die toekenningsgeleentheid sal op Vrydag, 25 Maart plaasvind.

Besoek www.cheesesa.co.za of kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of cheese@agriexpo.co.za vir meer inligting.