Jou gespreksgenoot in landbou




“Suid-Afrika kan nie oorleef sonder boere nie. Landbou is die enigste bedryf wat volhoubare ekonomiese groei en welvaart kan verseker”, sê mnr. Andries Gamede, Mpumalanga se LUR vir Landbou, Landelike Ontwikkeling, Grond- en Omgewingsake. Dit is tyd dat daar nasionaal en internasionaal besef word watter groot impak landbou op Suid-Afrika en die samelewing het en dit is presies hier waar Nasie in Gesprek inkom.
 
Nasie in Gesprek dien as ‘n “stem” vir die produsent en sy sleutelvennote en beweeg van krag tot krag om wêreldwyd ‘n positiewe stempel af te druk. Kommunale-, klein- en kommersiële boere word meestal uitgesluit van gesprekke wat regtig saak maak, omdat hierdie gesprekke tradisioneel as taboe beskou word. Dit veroorsaak dat die landbousektor soms op dowe ore val en onkunde oor landbousake maklik uitgebuit word. Dit beteken dat boere uiteindelik aan die kortste end trek. 
 
Dit is waarom Nasie in Gesprek geïnisieer is en belangrike rolspelers in die landbousektor insluit, naamlik AFGRI, Engen, John Deere, Graan SA, Monsanto en Nedbank.  Dit vind plaas onder die leiding van Senwes by die NAMPO Oesdag te Bothaville. Die inisiatief word ondersteun deur Agri SA.
 
Vanjaar is dit Nasie in Gesprek se vierde jaar by NAMPO Oesdag. Die gespreksforum poog om die gemiddelde Suid-Afrikaner in te lig oor die noodsaaklike rol wat landbou in ons land, die wêreld en in die toekoms gaan speel. Hulle doel is om dialoog aan te moedig onder denkleiers uit verskillende affiliasies, politieke agtergronde en die besigheidsektor om sodoende gemeenskaplike grond te bewerkstellig waar die saak van landbou versterk kan word. “Ons hoop om nie net boere nie, maar die hele samelewing te motiveer om anders te dink oor landbou en landboukwessies”, sê Francois Strydom (Groep Hoof Uitvoerende Beampte van Senwes). Anker aanbieder, Theo Vorster, se gevoel is: “teen die agtergrond van die emosionele waarde van grond en die opkomende munisipale verkiesings tesame met die nagevolg van die droogte, raak ingeligte en rasionele gespreksvoering al meer relevant vir besluitneming”
 
 
Senwes dra die belange van die landbousektor op die hart. Deur die daarstelling van mannekrag, die mobilisering van rolspelers in die landbousektor en inisiatiewe in plek te stel, help Senwes om op ‘n strategiese wyse denkleiers te motiveer om gesprekke oor sensitiewe kwessies rondom landbou aan te raak en sodoende met oplossings vorendag te kom. “Dit is in ons gesamentlike belang om te verseker dat ons landboubedryf veilig en stabiel sal funksioneer waar die produsente ondersteun en gemotiveer sal word. Daarom probeer ons om konsensus te bereik en die uitdagings wat landbou in die gesig staar, te oorkom. Ons poog om daardeur samewerking te bewerkstellig  wat sal lei tot ‘n beter en meer volhoubare landboutoekoms”, verduidelik Strydom.
 
Hierdie jaar se Nasie in Gesprek gespreksforum gaan poog om vanaf 17 – 20 Mei dialoog te huisves wat eksklusief en oplossingsgedrewe van aard sal wees en is opgewonde om talle hoofstroom mediavennote aan boord te hê. 
 
Nasie in Gesprek trap vanjaar ook ‘n groter digitale voetspoor met meer funksionaliteite, meer platforms en uiteindelik groter gebruikersvriendelikheid. Eerstens kan gebruikers uitkyk vir die Nasie in Gesprek toepassing (App) wat binnekort in die onderskeie App Stores beskikbaar sal wees. Hierdie toepassing plaas Nasie in Gesprek in die palm van die publieke hand en neem landbou en aktuele landbousake weier as ooit van tevore.
 
Entoesiaste kan ook vanjaar inskakel en al die ateljeebesprekings tydens NAMPO volg via YouTube, op die Nasie in Gesprek webtuiste en/of op die toepassing (App). Interaktiewe deelname is hoog op die prioriteitslys om sodoende kykers, luisteraars en lesers by die gesprekke te betrek en hul vrae of kommentaar in die ateljee te bespreek.
 
Hierdie jaar voorsien Nasie in Gesprek twee buite uitsaai-areas (voor Boerepatente en Hinterland saal) met groot LED-skerms. Dié luuksheid maak dit vir meer NAMPO-besoekers moontlik om die gesprek regstreeks te volg en deel daarvan te wees. 
 
Vir diegene waarvoor bandwydte en megagrepe ‘n bekommernis is, word daar ook voorsiening gemaak deur sosiale media platforms wat ingespan word om die gesprek tot by die nasie te neem. Facebook, Twitter, Instagram en LinkedIn sal gebruikers op hoogte hou van elke dag se besprekings.
 
In ‘n deurlopende poging om die onderwerpe en knelpunte so gou as moontlik te bespreek, verskyn die gesprekke ook reeds die daaropvolgende week op verskeie TV-kanale.   
 
Hou die media en ons webtuiste dop vir die program, onderwerpe en gassprekers. Vir meer inligting oor Nasie in Gesprek, besoek gerus www.nasieingesprek.co.za.