Landboumasjinerie se verkope dui op blink landboujaar

  • 18 Junie 2021
  • 1525
  • nuus



Verkoopsyfers

Trekkerverlope van 518 eenhede in Mei, is byna 13% meer as die 459 eenhede wat gedurende dieselfde tydperk in 2020 verkoop is. Vir die jaar tot dusver is trekkerverkope reeds 24% meer as in 2020.

Wat stropers betref is daar 35 stropers verkoop, vier eenhede meer as die 31 eenhede wat gedurende Mei 2020 verkoop is. Op ʼn jaargrondslag is stroperverkope ook reeds 24% meer as dieselfde tyd verlede jaar.

Volgehoue optimisme

Volgens Saama getuig dié goeie verkoopsyfers van volgehoue optimisme in die landboubedryf, met verskeie oesramings wat opwaarts aangepas is gedurende Meimaand. Die algehele mielieoes sal na verwagting bykans 6% meer wees as verlede seisoen, terwyl die soja-oes na raming die grootste ooit sal wees.

Die aanvraag na landboumasjinerie sal waarskynlik dwarsdeur die jaar gehandhaaf kan word.

Saama meen egter dat langer wagtydperke vir voorraad dalk ʼn impak op verkope mag hê. Die langer wagtydperk word toegeskryf aan die toename in die wêreldwye vraag na toerusting en die negatiewe impak van die Covid-19-pandemie op die logistiekebedryf. Saama maan produsente om goeie beplanning aan die dag te lê om seker te maak dat hulle die toerusting wat hulle nodig het so spoedig moontlik kry.