Lekaanvullings om die winter te oorleef




Inleiding

Die hoof komponent van voeding vir beeste en skape is ruvoer.  Sonder ruvoer is dit moeilik om beeste en skape deur ‘n droogte of winter te laat oorleef.  Wanneer ruvoer dus begin min raak of heeltemal opgevreet word, moet daar gekyk word na maniere om die ruvoer se kwaliteit te verbeter, dit te rek of met iets te vervang.  Hierdie skrywe gaan kyk na die gebruik van lekke as ’n manier om diere deur die winter te kry.

Die doel van enige lekaanvulling is om daardie voedingstowwe wat nie deur die natuurlike weiding  verskaf kan word om in diere se behoeftes te voorsien nie, aan te vul.  Dit is egter baie belangrik dat produsente moet verstaan dat lekke nie voere is nie en onder geen omstandighede ruvoer kan vervang nie.  Indien daar nie ruvoer beskikbaar is nie, kan lekke – en veral ureumbevattende lekke – nie aan diere gegee word nie.  
Wanneer daar egter wel bietjie weiding beskikbaar is kan lekke gebruik word om die nodige voedingstowwe aan te vul sodat diere in so ’n goed moontlike kondisie deur die winter kan gaan.
 

Proteïenlekke (onderhoudslekke)

Dit is wel bekend dat winterweiding sowel as droogte geteisterde weidings se kwaliteit laag is en dat dit veral die proteïen in die gras is wat ‘n probleem is.  Indien herkouers op hierdie lae proteïen gras wei, is daar nie voldoende proteïen vir die mikrobes in die rumen om te groei en te vermeerder nie en kry ons ’n afname in die vertering van ingenome gras.  Die gras beweeg stadiger deur die rumen en inname daal.  ’n Verlaagde inname beteken dat diere minder voedingstowwe inneem en begin massa verloor.  
 
Ureum bevattende proteïen lekke word dus gegee om die verteerbaarheid van die droë weiding te verhoog en so inname van die droë weiding te stimuleer. Ureum bestaan uit 46 % stikstof (dit is 287 % ekwiwalente proteïen) en word in die rumen afgebreek na ammoniak, die afbraakproduk wat deur die rumen mikrobe (veral veselverterende bakterieë) gebruik word om hul eie mikrobe proteïen te vervaardig om te kan groei en vermeerder.  Hoe meer mikrobe in die rumen, hoe beter en vinniger is die vertering van  die gras.  Gras beweeg dus vinniger deur die rumen en die dier se grasinname en dus voedingstof inname, verhoog.  Mikrobe proteïen maak sowat 60 tot 80 % van die totale proteïen wat die dunderm bereik uit en is dus die vernaamste bron van proteïen vir herkouers op die veld. 
 
As die ruvoer op die veld begin min raak of heeltemal opgevreet word, sal die diere begin om al meer van die lek te vreet.  ’n Hoë inname van ’n onderhoudlek beteken dat diere ook groot hoeveelhede ureum inneem en diere kan ureumvergiftiging kry.  
 
Dit is dus baie belangrik dat daar ten alle tye genoeg gras of aangekoopte ruvoer beskikbaar is wanneer ureumbevattende onderhoudslekke aan skape of beeste gevoer word.  Die volgende onderhoudslekke kan vir beeste en skape gemeng word:
 

 

Tabel 1                 Onderhoudslekke vir beeste en skape

 

Grondstof

Lek vir Beeste

Lek vir skape (ook geskik vir beeste)

Mielies

250

250

Oliekoek

-

150

Voergraad Ureum

150

100

Kimtrafos 12 Grande

150

100

Kalori 3000

50

50

Voergraad Swael

7

5

Sout

350

350

Totaal

957

1005

Inname: Beeste (g/dag)

350 – 500

450 – 650

Inname: Skape (g/dag)

Nie geskik vir skape

80 - 120
  • Pas diere aan by hierdie lekke deur die hoeveelheid gegee geleidelik oor ’n periode van 7 – 10 dae te vermeerder.

Produksielekke

Wanneer weiding begin min raak of skaars is, kan produksielekke eerder as onderhoudslekke, gebruik word om die beskikbare weiding te rek en diere steeds in ’n redelike kondisie te hou.  Wanneer ruvoer duur raak om aan te koop, kan die gee van produksielekke soms meer ekonomies wees, veral by lakterende en groeiende diere.


Produksielekke bevat laer vlakke van ureum asook natuurlike proteïene in die vorm van oliekoeke en energie in die vorm van grane.  Produksielekke vir droë weiding sal help om massa verlies te verminder.  Onthou dat ‘n produksielek net soos ’n proteïenlek, nie ’n voer is nie en dat daar wel nog ’n bietjie weiding beskikbaar moet wees wanneer produksielekke gegee word.  Produksielekke is wel duur en die inname is heelwat hoër as die van onderhoudslekke, maar kan gebruik word om die droë weiding te rek sodat, soos reeds genoem, minder duur ruvoer aangekoop hoef te word.  Die volgende produksielekke kan gemeng word:


 

 

Tabel 2                 Produksielekke vir beeste en skape op droë weiding

 

 

Lek vir Groei

Lek vir Laktasie

Grondstof

Kg/mengsel

Mielies

300

200

Oliekoek

400

400

Voergraad Ureum

50

75

Kimtrafos 12 Grande

75

75

Kalori 3000

25

25

Voergraad Swael

3

5

Sout

200

250

Totaal

1053

1030

Inname: Beeste (g/dag)

1000 - 2000

800 – 1200

Inname: Skape (g/dag)

150 - 200

150 - 200

  • Alle produksielekke kan op natuurlike en aangepante weiding gegee word.

Behandeling van laegraadse ruvoer

Wanneer daar bitter min of geen ruvoer oor is vir weidende diere, kan produsente dit oorweeg om swak kwaliteit ruvoer soos oesreste of swak kwaliteit gras met ureum en ’n melasse produk te behandel om die kwaliteit daarvan te verbeter.  Meng 15 kg Voergraad Ureum, 25 kg Kalori 3000 en 0.75 kg Voergraad Swael (opsioneel) met 200 liter louwarm water en giet dit oor 1 ton ruvoer.  Hierdie behandelde ruvoer kan dan daagliks, of soos beskikbare hoeveelheid dit toelaat, aan diere gevoer word.  Geen ureum bevattende lekke moet saam met die behandelde ruvoer gevoer word nie.
 

Opsomming

Met die beperkte hoeveelheid weiding tot produsente se beskikking hierdie jaar, kan lekke gebruik word om diere deur die winter kry.  Daar moet egter seker gemaak word dat daar ten alle tye voldoende ruvoer vir die diere beskikbaar is voordat veral ureumbevattende lekke aan diere gegee word.
 
Skakel ’n Yara Animal Nutrition South Africa voedingkundige by 082 322 0333 vir verdere inligting en aanbevelings.