Misdaadtoename ‘n bedreiging vir landbou

  • 10 Junie 2020
  • 2847
  • press-release



Boere lei groot verliese weens ‘n drastiese toename in produk- en veediefstal, die onwettige slagting van vee en plundering op plase. Hierdie tendens gaan moontlik in die volgende maande toeneem. Bydraend hiertoe is die vrylating van gevangenisse, werkloosheid en die gepaardgaande armoede.

Die totale verlies weens landbouverwante misdaad is ongeveer R7,72 miljard waarvan veediefstal, volgens die Nasionale Veediefstal Voorkomingsforum, nagenoeg R 1,4 miljard per jaar beloop. Wat misdaad betref is veediefstal die grootste finansiële risiko vir die landbou. Onwettige slagtings op plase kom nou ook voor in gebiede soos die Limpopo-provinsie waar dit tradisioneel nie voorgekom het nie. Die drastiese toename in die onwettige jag met honde, veral deur georganiseerde groepe hou ‘n verdere bedreiging in vir die natuurlewe asook vee-en wildboere wat nòg ‘n bedreiging vir die landbou is.

Goeie suksesse is egter die afgelope tyd behaal in die arrestasie van verskeie groepe wat by veediefstal betrokke was. Suksesse is ook behaal met die arrestasie van ‘n groot groep onwettige jagters met honde in die Oos-Kaap, deur die goeie samewerking tussen boere en die polisie. Die bekamping van misdaad plaas ‘n verdere verpligting op die primêre landbou wat hoofsaaklik verantwoordelik is vir voedselproduksie. Die effek van misdadigheid as ‘n bedreiging, hou ’n risiko in vir landelike stabiliteit, die land as geheel, asook vir voedselsekerheid.

Die boerderygemeenskap spandeer jaarliks bykans R1,9 miljard om hulle en hulle produksie teen misdaad te beskerm. So het die Agri Securitas Trust Fonds onlangs 15 landelike beveiligingsprojekte in vyf provinsies goedgekeur ter waarde van ongeveer R1,9 miljoen. Hierdie projekte strek tot voordeel van meer as 990 boere en 7000 plaaswerkers. Die projekte behels hoofsaaklik die installering van kamera- en radiostelsels. Dit is duur tegnologie wat moeilik deur boere gefinansier kan word. Hierdie tegnologiese hulpmiddele en die inligting wat daaruit verkry word dra ook by tot die suksesse van die polisie en lei tot arrestasies.

Agri SA het in ‘n verdere poging om landelike veiligheid te verbeter, hande gevat met Fidelity ADT, waardeur ‘n verskeidenheid sekuriteisprodukte en dienste aan die boerderygemeenskap gelewer kan word. Van die produkte en dienste word reeds suksesvol op plekke aangewend.

Agri SA het intussen ‘n dringende versoek vir ‘n gesprek tot die polisie gerig om die implementering van die reservistestelsel, die volle implementering van die Nasionale Landelike Beveiligingstrategie en die omvang van die onwettige jag met honde te bespreek.

Ten slotte doen Esterhuyse ‘n beroep op die boerderygemeenskap om nie hulle waaksaamheid te verslap nie, maar aktief by hulle plaaslike georganiseerde landbou- en veiligheidstrukture betrokke te raak.

Navrae:
Tommie Esterhuyse
Voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid: Landelike Veiligheid
(S) 082 782 0668

Kobus Visser
Direkteur: Agri SA Landelike Veiligheid en Provinsiale Sake
(S) 082 388 0010