Mukhithi se Makietie




Daar is 'n Engelse gesegde wat lui: All work and no play makes Jack a dull boy. Phillip Mukhithi gaan egter van krag tot krag met die harde werk wat hy in sy boerdery insit. Phillip is werklik 'n inspirasie vir alle opkomende boere.  Hy het nie net sy eie plaas gekoop nie, hy maak ook uitstekende vordering daarmee om homself toe te rus om 'n groter en beter boer te word.

Die 52-jarige Phillip beskryf homself as 'n ernstige kommersiële boer.  Hy het sy plaas van 435 hektaar tussen Klerksdorp en Wolmaransstad reeds in 2007 gekoop en het sedertdien geweldige groei getoon.

Kom ons begin by die begin.  Hy is gebore en getoë in die dorpie Mara in Limpopo, waar hy sy skoolloopbaan by Kranspoort Laerskool begin het.  Daarna het hy die Dzala en Mphephu Hoërskole in Venda bygewoon.

Hy dink terug aan sy eerste blootstelling aan boerdery, wanneer hy huistoe gegaan het na skool, waar sy ma Sarah op 'n plaas gewerk het. Hy was veral mal oor die trekkers.  Hy het geweet dat hy graag eendag sy eie plaas sou wou hê, alhoewel hy op daardie stadium nie so mal was oor boerdery as sulks nie.  Dit was egter waar die eerste saadjie geplant is.  Boerdery het later sy lewe geword.

Phillip is anders in die sin dat hy reeds 'n bedrewe besigheidsman was voordat hy by boerdery betrokke geraak het.  Sy loopbaan het as sekuriteitswag begin, waarna hy vir 14 jaar in die telekommunikasiebedryf gewerk het.  In dié tyd is hy na Klerksdorp verplaas.  Sy eerste sekuriteitskontrakte is in 2003 aan hom toegeken en hy is nou die trotse eienaar van sy eie sekuriteitsmaatskappy, Tshedza, wat werk aan 1800 mense verskaf. Daarbenewens het hy ook sy eie vulstasie in Potchefstroom in die Noordwes Provinsie. 

Beeste

In die swart kultuur word 'n mens gedefinieer deur die aantal beeste wat jy besit.  " 'n Man met beeste is 'n man". Dit het hom aangespoor om die landboubedryf te betree. Sy doelwit is nie net om te boer nie, maar ook om verandering te bring. "Ek is meer as gereed om verandering in die lanboubedryf te sien". 

Sy liefde vir beeste het toegeneem toe hy vir Marthinus Verster ontmoet het. Op daardie stadium het hy net kommersiële beeste gehad. Martiens het hom aan Brahmane voorgestel en van Stoetbrahmane gepraat. "My liefde vir Brahmane het daar begin."  Martiens het selfs vir Phillip veilings toe gevat. 

Hy is so passievol oor sy beeste dat sy Brahmane selfs name kry. Chris was sy eerste Brahman en Chief die volgende. Chris is ongelukkig reeds dood.

Mielies

Phillip plant minder as 100 hektaar mielies op sy plaas maar hy kyk tans na 'n ander plaas met tussen 200 en 300 hektaar bewerkbare grond.  Hy lag wanneer hy terugkyk op sy reis tot nou.  "Ek het gedink ek is suksesvol as die sleepwa vol mielies is.  Min het ek geweet." Hy het eers later die begrip van hoë tonnemate verstaan en oes nou soms soveel as 3 ton per hektaar.

Senwes

Een ding wat hy in besigheid geleer het is dat "jy mense nodig het om jou te help". Hy is dankbaar vir die bystand deur Senwes, veral van landbou-ekonoom Julias Ramohlabi.  Julias werk nou saam met Phillip en mentor hom met betrekking tot kunsmistoeding en hulpbronevaluering.  "Dit was iets wat ek nooit verwag het nie". Philip hou homself op hoogte van sake deur alle opleidings- en studiegeleenthede wat Senwes bied, by te woon.  Julias bevestig dat Phillip werklik toegewyd is. 

Diversifikasie

Phillip verduidelik dat hy sy besigheid deur boerdery wil diversifiseer.  Hy erken dat sy talent en kennis tans in die sekuriteitsbedryf lê.  Om hierdie rede het hy sy dogter, Livhuwani (26), aan die boerdery begin blootstel.  Sy plan is om haar alles oor boerdery te leer sodat sy die boerdery kan bedryf, wat hom sal help in die sin dat dit van die druk op hom sal verlig.  Livhuwani bevestig dat daar baie druk op haar pa is.  “Hy is absoluut toegewyd en druk homself harder en harder elke dag.  Hy het 'n liefde vir boerdery by my gekweek". 

Sy lewensiening

Phillip het geleer dat 'n mens gefokus moet wees as jy geld wil maak uit boerdery.  Hy vertel dat hy 'n slegte jaar in 2014 gehad het, maar dat hy nooit sal opgee nie.  Ek wil my nie met mislukking assosieer nie.  "Ek voltooi altyd waarmee ek besig is".  Hy hardloop ook nie weg van uitdagings af nie.  Hy glo dat 'n mens dit vierkantig in die oë moet kyk en dit moet oorkom.

Een ding wat ons van Phillip kan leer is dat 'n mens talent en liefde nodig het in besigheid.  In sy geval - 'n talent vir sekuriteitswerk en 'n liefde vir boerdery.  Op 'n manier verteenwoordig hy die toekoms van boerdery. Landbou word toenemend deel van die wêreldekonomie en sal 'n bedryf word wat deur beleggers oorweeg sal word met die oog op die diversifikasie van hul handelsmerke.

Phillip het aan die onlangse Nasie in Gesprek reeks van Senwes deelgeneem. Lesers kan toegang tot die spesifieke episode verkry op Youtube by https://youtu.be/iZxwiQCiinA.