'n Boer maak 'n plan




Vanweë ons lewensomstandighede word ons voortdurend aan eksterne faktore blootgestel wat daartoe kan lei dat ons stres beleef.  Die langdurige blootstelling aan stres kan negatiewe implikasies vir die fisiese en emosionele aspekte van ons lewens hê.  Uiteindelik kan dit daartoe lei dat ons “gewoond” raak aan die stres, maar dat dit tog op subtiele wyses neerslag kan vind op die mate van lewenskwaliteit wat ons ervaar.  Dit is dan wanneer die individu nie meer werksbevrediging ervaar nie, wanneer hy begin vra na die sin en inhoud van sy lewe en wanneer dit vir hom voel asof hy in ‘n lang, voortslepende oorlewingstryd gewikkel is.  Kortom, die individu se algemene tevredenheid met sy lewe word uiteindelik negatief beïnvloed.
 
Die primêre oogmerk van hierdie reeks is om die leser in staat te stel om deur middel van persoonlike groei uiteindelik hoër vlakke van lewenstevredenheid en lewenskwaliteit te beleef.  Dit word gedoen deur die leser nie net in kontak te bring met sy gebroke werklikheid nie, maar om hom ook by te staan om, ten spyte van sy gebroke werklikheid, steeds maksimum mens te wees.  Met die samestelling en skryf van hierdie reeks is sekere sielkundige beginsels so sinvol as moontlik gekombineer met die Bybel sodat dit die leser op ‘n bevrydende spirituele reis kan neem van selfontdekking, selfaanvaarding en selfaktualisering.
 
Ons hoor elke dag van stres en miskien ervaar jy dit daagliks as deel van jou werk en huishouding.  Maar die vraag wat nou opkom is  wat is stres regtig?  Waar kom dit vandaan?  Wat gebeur met my wanneer ek stres ervaar en wat is die implikasies daarvan op my lewe?  
 
Elke mens beskik oor bronne.  Bronne dui op die volgende:  voorwerpe soos besittings; persoonlike kenmerke soos jou selfbeeld (hoe ek myself sien, beleef en evalueer), gesondheid en emosionele vermoëns (om te kan lag, lief te hê, te kan huil, ensovoorts); sosio-ekonomiese status; beroep; belangrike mense in my lewe; tyd; ensovoorts.  
 
Hierdie bronne het groot waarde vir die individu, omdat dit help met die identifisering van sy identiteit.  Met ander woorde, my besittings, beroep, sosio-ekonomiese status, tyd en mense met wie ek in betekenisvolle verhoudings staan is bepalend, nie net vir wie en wat ek is nie, maar ook die plek wat ek in die samelewing beklee.  My selfbeeld of selfwaarneming berus dus grootliks op al die bronne wat ek bymekaar gemaak het.  Daarom probeer die mens voortdurend om hierdie bronne te behou, te beskerm en verder uit te bou.  
 
Omgewingstoestande en lewensgebeure bedreig dikwels hierdie bronne en dit kan selfs aanleiding gee tot die vermindering of vernietiging daarvan.  Die gevolg hiervan is die feit dat die mens se status, posisie in die samelewing, ekonomiese status, geliefdes, selfbeeld, ensovoorts in die gedrang kom.  Wanneer die mens in reaksie kom ten opsigte van hierdie moontlike bedreiging of moontlike verlies van lewensbronne, ontstaan stres.  ‘n Matige hoeveelheid van stres is baie gesond vir die mens want dit kan hom aktiveer om konstruktief daarmee te handel.  Oormatige hoeveelhede stres kan egter spanning by die mens veroorsaak.  
 
Wees op die uitkyk vir die volgende uitgawes van die Senwes Scenario en maak hierdie reis mee!