Nampo 2022 | Program strek oor vyf dae

  • 11 Maart 2022
  • 1192
  • nuus



Na twee jaar sonder Nampo sal die Nampo-oesdag vanjaar van 16 tot 20 Mei aangebied word.

Volgens ʼn verklaring in hierdie verband gaan die span volstoom voort met reëlings om die Nampo-oesdag vanjaar te kan aanbied, hoewel die organisasie steeds wag op terugvoer van die nasionale korona-bevelsraad oor sy aansoek om die geleentheid aan te bied.

 “Die uitwerking om sedert 2019 nie die Oesdag op Nampopark te kon aanbied nie, het verreikende gevolge nie net vir die organisasie gehad nie, maar ook vir die omliggende dorpe. Die plaaslike distrik, wat nog nie heeltemal van die buitensporige waterskade in Januarie herstel het nie, maak staat op die ekonomiese en finansiële inspuiting wat die Oesdag meebring,” sê dr Dirk Strydom, Graan SA se hoof van bemarking, Nampo en navorsing.

In oorleg met uitstallers het meer as 80% aangedui dat dit nodig is om die Oesdag in Mei 2022 aan te bied, en hulle was dit eens dat ʼn ekstra dag in die skedule broodnodige sakegeleenthede kan byvoeg. Volgens die verklaring bied Nampo, met sy byna 800 uitstallers, dié platform om met die landboubedryf se top belanghebbendes te netwerk, vriendskappe en verhoudings te versterk en te geniet wat hierdie unieke vertoning bied binne ʼn rustige plaas-atmosfeer.

Volgens Danie Minnaar, voorsitter van die Nampo-oesdag, is die beste tegnologie en kennis vir produsente om volhoubaar te boer by Nampo te vinde. “Al bly die landbou onder aansienlike druk, het boere steeds genoeg geesdrif vir boerdery om elke aspek van die landbou wat die Oesdag bied, te verken ten einde mededingend en relevant te bly.”

Die afwesigheid van die Oesdag het die belangrike rol wat dit speel om netwerkvorming in die landbousektor moontlik te maak, beklemtoon. “Om regeringsverteenwoordigers en belanghebbendes uit die landbouwaardeketting te ontvang, bied geleentheid vir belangrike en soms moeilike gesprekke in ʼn omgewing wat bevorderlik is vir en gemik is op die bevordering van die sektor plaaslik en regdeur Afrika, suid van die Sahara,” sê dr Pieter Taljaard, Graan SA se uitvoerende hoof.

Besonderhede rakende kaartjieverkope en toegangstye sal mettertyd bekend gemaak word.