Nasionale opbrengskompetisie vir tweede jaar aangebied

  • 12 Februarie 2021
  • 1898
  • nuus



Die kompetisie het dit ten doel om ʼn platform te skep waar graanprodusente vir die beste opbrengs per kategorie kan meeding om sodoende nader aan die genetiese potensiaal van die verskillende graangewasse te beweeg. Sekondêr tot dié doelstelling bied die kompetisie produsente ook die geleentheid om van mekaar te leer, en sodoende ʼn standaard vir beste praktyke te skep.

Graanprodusente ding in verskillende kategorieë, waaronder droë- en besproeiingsgrond, mee en word in beide streke en nasionale deelname ingedeel. Innoverende produksiepraktyke en slim boerderyplanne word aangemoedig om die hoogste opbrengste per hektaar te behaal, ongeag die kultivar wat geplant is. Dié kompetisie is die enigste in sy soort wat deur Graan SA aangebied word en sluit die produksie van mielies, koring, sonneblom en sojabone in. Graan SA lede kan gratis inskryf.

Meer oor die kompetisie

Pioneer het vanaf 2017 tot 2019 die Pioneer Weeg en Wen-kompetisie met sukses in Suid-Afrika aangebied. Dié kompetisie het goeie uitbreiding getoon en is nou gereed om selfs groter te word. As ‘n gevolg, het Graan SA met die hulp van Pioneer, ‘n nuwe opbrengs kompetisie gevestig waar produsente innoverende produksiepraktyke kan toets om sodoende die hoogste opbrengste te bewerkstellig.

‘n Kompetisie soos dié bied die geleentheid om saad- genetika en tegnologie se uiterstes te toets, maar bied bowenal aan produsente die geleentheid om van mekaar te leer met betrekking tot presies wat moontlik is. Die hoogste opbrengs is natuurlik nie altyd die optimale winsgewendheidsvlak nie, maar dit bied geleenthede om te sien waar die grense lê en wat vermag kan word.

Die formaat van die kompetisie stel individuele produsente in staat om in te skryf en bied verder aan saadmaatskappye die opsie om drie van hul beste opbrengste in elke kategorie in te skryf.

Nog inligting rakende die opbrengskompetisie kan op die webwerf www.groeivirgoud.co.za verkry word, of produsente kan met hul onderskeie saadmaatskappye skakel.