Nat Paasnaweek in die vooruitsig gestel

  • 14 April 2022
  • 1057
  • nuus



Neerslae van 40 mm of meer kan van 15 tot 21 April oor veral die sentrale tot suidoostelike dele van die binneland voorkom. Volgens Van den Berg sluit die gebiede wat deur die neerslae geraak sal word onder meer Noordwes, die oostelike dele van die Noord-Kaap, die Vrystaat, Gauteng, die suidelike dele van Limpopo, Mpumalanga en die noordelike dele van die Oos-Kaap in. Dieselfde gebiede kan voorts nog sowat 20 mm reën in die laaste week van April te wagte wees.

Gedurende hierdie tyd gaan temperature na verwagting laag wees met bewolkte toestande wat gereeld sal voorkom. Maksimum temperature van 20 °C tot 25 °C word vir die grootte deel van die somergraangebiede verwag, met minimum temperature wat na verwagting tussen 5 °C en 12 °C kan wissel.

Van den Berg meen die kans op swaar voor die einde van April is skraal, maar met die huidige en verwagte temperature en bewolkte toestande gaan die groei van somergewasse byna tot stilstand kom. Hy verduidelik dat ʼn maksimum temperatuur van 20 °C en ʼn minimum temperatuur van 10 °C slegs sowat vyf hitte-eenhede per dag verteenwoordig. Die verwagte hitte-eenhede vir April sal daarom ongeveer 30% ondergemiddeld wees.

Die nat toestande wat voorkom en nog verwag word, kan veroorsaak dat landerye te nat gaan wees om te stroop, veral van sojabone en sonneblom wat nou stroopgereed is of in die volgende paar weke stroopgereed gaan word.

Van den Berg maan veeboere wat nou kaalgeskeerde skape het of ooie wat tans lam om baie versigtig te wees vir skade. Baie nat en bewolkte toestande met lae temperature en wind kan groot skades veroorsaak, veral vanaf 15 tot 21 April asook gedurende die laaste week van April.

* Die artikel het oorspronklik in Landbou.com verskyn.