Nog neerslae verwag vir komende week

  • 14 Januarie 2022
  • 1260
  • nuus



Van den Berg meen neerslae kan tot en met 18 Januarie oor die oostelike dele van die Noord-Kaap, Noordwes, die Vrystaat, Gauteng, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, die noordelike dele van die Oos-Kaap en die suidelike dele van Limpopo voorkom. Hy skryf hierdie neiging toe aan baie sterk ontwikkelde laagdrukstelsels wat swaar reën en hael oor kleiner gebiede tot gevolg het.

Dié verwagte reën veroorsaak dat die risiko vir oorstromings langs die Vaal-en Oranjerivier baie hoog bly.

Hoogdrukstelsel

ʼn Hoogdrukstelsel gaan weerstoestande vanaf die suidweste oorheers en skep ongunstige toestande vir reën oor veral die Suidwes-Kaap.

Temperature van 35 °C tot 42 °C kan voorts voorkom in die eerste week van Februarie oor veral die binneland van die Wes-Kaap soos Ceres, Paarl, Worcester, Robertson en selfs so ver as Grabouw.

ʼn Hoogdrukstelsel oor die noordoostelike dele van die land sal in die laaste week van Januarie tot en met die eerste deel van Februarie tot minder reën aanleiding gee en veral die sentrale tot noordoostelike dele van die Vrystaat, Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal sal hierdeur geraak word.

Tropiese laagdrukstelsel

Van den Berg verduidelik dat ʼn tropiese laagdrukstelsel later vandeesmaand in die omgewing van die Mosambiekkanaal gaan ontwikkel, met gevolglike swaar reën oor Mosambiek en suidooswaarts oor Madagaskar. Dié stelsel sal bydra tot minder reën oor Suid-Afrika.

Hoewel die laagdrukstelsel tans nie sterk genoeg is om as ʼn sikloon geklassifiseer te word nie, is dit sterk genoeg om baie reën noord van Suid-Afrika te veroorsaak.

La Niña-toestande

Volgens Van den Berg is die La Niña-verskynsel nog sterk gevestig, en toestande bly baie gunstig vir verdere reën later in die somer. Verdere reën is veral vanaf die tweede deel van Februarie moontlik en die verwagting is dat daar in Maart en April nog baie reën oor die sentrale tot westelike dele gaan voorkom.

Reën word ook voorspel vir die droë gebiede in die Noord en Oos-Kaap.