Noodfonds vir droogte by R3miljoen




Derduisende individue het al van R30 tot R10 000 inbetaal vir Senwes en Agri SA se droogterampfonds, sê mnr. Christo van der Rheede, adjunk-uitvoerende direkteur van Agri SA.

Senwes, wat die fonds saam met Agri SA in die lewe geroep het, het R1 miljoen bygedra. Verskeie ander groot bydraes is ook deur maatskappye soos Beefmaster, Voermol, Sanlam, Monsanto, Grainovation, Overberg Agri, Bain, FNB, Sage en vele ander gemaak en dit wissel van R100 000 tot R250 000. Agri SA spreek sy grootste waardering uit teenoor almal wat bydra, sê Van der Rheede.
 
“Talle boere tot so ver as die Suid-Kaap, Wes-Kaap en Mpumalanga skenk ook voer. TWK op Piet Retief en boere so ver as Moorreesburg het gratis voer aangebied. Vervoermaatskappye, soos Imperial Logistics, Hestony-vervoer, die MBV-groep en andere help ook om voer te verskuif. Die SA Brouerye het ook aangebied om hul trokke in die Noord-Kaap vir die vervoer van voer beskikbaar te stel.
 
“Die NG Kerk het ook in samewerking met Agri SA met ‘n projek wat hulle noem NG Droogtehulp begin. Die projek het ten doel om aanvanklik R2 miljoen in te samel vir mense en boere wat deur die droogte geraak word. Die NG gemeente Hartenbosch het reeds R52 400 ingesamel en aan Agri-SA oorhandig. Altesaam R200 000 is ook uit die sinodale natuurrampfonds beskikbaar gestel. Die NG Droogtehulp-projek skop dus af met R272 400 wat reeds ingesamel is.”
 
Van der Rheede sê die nasionale winkelgroep Pick n Pay gaan voortaan al hul kliënte aanmoedig om hul Smart Shopper Card-punte na die Agri SA se droogterampfonds te kanaliseer. Agri SA, Pick n Pay en die NG Kerk gaan ook saamwerk om kospakkies by werkers en boere op plase uit te kry waar daar uiterste nood is.
 
“Fondse uit die rampfonds is aan Agri SA se provinsiale organisasies beskikbaar gestel om die landbougemeenskap by te staan. Boereverenigings moet sekere riglyne om aansoek te doen vir dié fondse by hulle provinsiale organisasie. Agri SA beveel aan dat holisties gekyk moet word na die behoeftes in ‘n bepaalde distrik en dat die beperkte hulp sover as moontlik gerek moet word om die nood van alle mense te verlig.
 
“Agri SA se nasionale en provinsiale kantore, asook die kommoditeitsorganisasies soos Graan SA sit hand by om te verseker dat die integriteit van die hulp en gepaardgaande skenkings onder geen omstandighede onder verdenking is nie. ‘n Volledige oudit en verslae sal aan alle skenkers beskikbaar gestel word.”
 
Om geld, voer of enige ander vorm van humanitêre hulp te skenk, gaan na www.droogterampfonds.co.za of kontak Agri SA of die provinsiale Agri-kantore om meer inligting.