Noord-Kaap gaan gebuk onder erge sprinkaanplaag

  • 18 Februarie 2022
  • 1247
  • nuus



Volgens dr Gerhard Verdoorn, bedryfsbestuurder van Croplife SA, is die huidige situasie skrikwekkend, veral in vergeleke met die uitbrekings van die voorafgaande jare. Hy vertel dat swerms aangemeld word wat oor 20 km en selfs 30 km strek.

Streke wat veral onder gebuk gaan onder die plaag is die Namakwaland, die Kalahari, die noordelike gedeeltes van die Karoo, Prieska dwarsdeur tot by Vosburg en Carnarvon. Die paaie tussen Britstown en Victoria-Wes, asook tussen Victoria-Wes en die Leeu-Gamka is voorts bedek met ʼn rooi vlaag voetgangers.

Dr Verdoorn verduidelik dat omdat die Karoo so yl bevolk is, daar sommige plase is wat niemand weet of daar sprinkane is of nie. Ander plase is weer so nat dat die boere nie in die veld kan kom om vas te stel of daar sprinkane is nie. Van die sprinkane het al die derde groeistadium bereik en sal daarom binnekort begin vlieg.

Volgens Janine Byleveld, bedryfsamptenaar by Agri Noord-Kaap, word daar tans daagliks op tussen 20 en 30 swerms gespuit om dit onder beheer te bring. Volgens haar is daar genoegsame spuitmiddel, maar ʼn tekort aan spuit-en bakkiepompe asook beskermde kleredrag vir die spuitspanne. Daar word tans gepoog om voorrade hiervan aan te vul.

Boere en die publiek word versoek om sprinkaanswerms so spoedig moontlik aan te meld by Mulalo Matodzi by 083 326 7773, Vuyokazi Mpumlwana by 084 760 8176 of dr Ikalafeng Kgakatsi by 072 198 9882. Boere kan ook swerms by die kantoor van die departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming op De Aaar aanmeld by 053 631 3122 of 053 631 3261, of by dr Verdoorn by 082 446 8946.