Onluste knak die plaaslike suikerrietbedryf

  • 20 Augustus 2021
  • 1432
  • nuus



Die vereniging sê tydens die oproer is daar geraam dat die algehele skade vir kwekers tot R300 miljoen kan beloop as hulle nie daarin sou slaag om die meer as 500 000 ton suikerriet, wat in voorvalle van brandstigting beskadig is, kon verwerk nie. Hierdie vrees is egter nou bewaarheid, en meule in KwaZulu-Natal het reeds 135 222 ton beskadigde suikerriet afgekeur. Op die keper beskou verteenwoordig dit ʼn verlies van meer as R84,5 miljoen.

Voeg hierby die ernstige droogte in sommige gebiede, goedkoop invoere en die impak van suikerbelasting en dit word, volgens die vereniging, duidelik dat die bedryf onder ernstige druk verkeer.

Kleinskaalse kwekers die hardste getref

Dit word gereken dat byna ʼn derde van die suikerriet wat tot dusver verwerp is, meer as 38 000 ton, aan kleinskaalse kwekers behoort en wie straks nie van dié verlies aan inkomste sal kan herstel nie.

Dié situasie word vererger deur die feit dat baie van hierdie kwekers nie oor versekering beskik nie, en die aankondiging van Sasria – die regering se korttermynversekeraar vir onluste, dat alle suikerriet wat aan die brand gesteek is alvorens die meule gesluit is, nie gedek sal word nie. Laasgenoemde aankondiging is gemaak ten spyte van die feit dat verskeie meule eers gesluit is nadat groot hoeveelhede suikerriet deur brandstigters vernietig is.

ʼn Verdere uitdaging vir kleinskaalse kwekers is dat transformasievoordele regstreeks gekoppel word aan die tonnemaat wat gelewer word.

Staatsinstellings gevra om in te gryp

Omdat meule op verskeie plekke nog nie teen volle kapasiteit werk nie, kan nog verliese te wagte wees.

In die lig hiervan het die vereniging ʼn oproep om hulp aan verskeie staatsinstellings gerig, waaronder die departement van handel, nywerheid en mededinging, die landboubemarkingsraad, die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en die parlementêre portefeuljekomitee oor grondhervorming en landelike ontwikkeling.