Projek laat kinders toe om te droom

  • 04 Desember 2020
  • 1964
  • nuus



Dit is hoe Francois Strydom, Groep Uitvoerende Beampte, die hartseer realiteit van die moderne samelewing beskryf het tydens die amptelike opening van die Vroeë Kinderontwikkelingsentrum by die Itokisetseng Gekombineerde Skool in Wesselsbron. Dié sentrum, die eerste van sy soort by die skool, is geborg deur Senwes en Thobo Trust, sy strategiese vennoot vir sosio-ekonomiese ontwikkelingsdoelstellings.

Volgens Francois moet die sentrum, en die skool in geheel, nie net gesien word as ʼn klaskamer nie, maar eerder as ʼn sentrum wat die toekoms instaatstel. Die vaardighede wat hier aan jong kinders oorgedra sal word sal hulle nie net akademies bemagtig nie, maar hulle ook bemagtig om verantwoordelike wêreldburgers te word.

Francois het sy hoop uitgespreek dat dié sentrum as ʼn ontwikkelingsmodel voorgehou sal word en dat dit ook in ander bedieningsgebiede van die groep geïmplementeer sal word.

Vennootskappe maak verdere ontwikkeling moontlik

Die nuus dat Krieket Suid-Afrika (KSA) tot die verdere ontwikkeling van dié plaasskool gaan bydra is ook tydens die inhuldiging bekend gemaak. ʼn Borgskap van R100 000 sal verseker dat bestaande infrastruktuur opgegradeer word, terwyl daar ook op die ontwikkeling van krieketfasiliteite gefokus sal word.

Francois het voorts die gehoor, wat uit lede van die gemeenskap; die skoolbestuur; verteenwoordigers van die departement van opvoedkunde en die departement van sosiale ontwikkeling bestaan het, aangemoedig om as vennote hande te vat en te verseker dat die sentrum oor die langtermyn selfonderhoudend kan wees. Hy het op die strategiese waarde van vennote gefokus en gesê dat die land probleemoplossers nodig het, en nie mense wat op die regering wag vir hulp en aalmoese nie. “Word ʼn ambassadeur van hoop en gebruik dit wat jy het om ʼn verskil te maak. As ons hande vat, kan ons die toekoms verander na een waarin kinders hul regmatige plek kan inneem, sonder vooroordeel, twyfel of angs. ʼn Plek waar drome waar word”.