Rekord uitvoervolumes vir sagtesitrus

  • 10 Desember 2021
  • 1341
  • nuus



Sagtesitrus, wat ook alom bekendstaan as ‘maklike skillers’, is mandaryne van kultivars wat van die spesies Citrus reticulata Blanco, Citrus unshiu Marcow, Citrus nobilis Lour, Citrus deliciosa Tenore en hul baskers gekweek word.

Die streek wat dié seisoen die beste presteer het, was die Boland wat 6,6 miljoen kartonne verpak het. Dit was 19% meer as die aanvanklike skatting vroeër vanjaar. Die Wes-Kaap se 5,8 miljoen kartonne was 5% bo die skatting, terwyl die Burgersfort-Ohrigstad-streek met 4,2 miljoen kartonne altesame 11% oor die aanvanklike skatting was.

Bo aan die gewildheidslys

Nadorcott en Tango bly steeds die gewildste kultivars en het tot 15,3 miljoen kartonne vanjaar gestyg. Orri het tot 1,7 miljoen toegeneem en Leanri het op 1,6 miljoen kartonne geëindig. Novas het effens afgeneem tot 4,1 miljoen kartonne, terwyl Clementines op 4,6 geëindig het. Satsumas het tot 1,7 miljoen gedaal.

Met verskeie jong boorde wat nog in produksie moet kom, voorspel die Sagtesitrus-fokusgroep ʼn toekomstige toename in Clementine- en Mandarynvolumes.

Wat markverspreiding betref, is die topvyf-aankopers in die eerste plek Europa wat met 114 000 ton die grootste mark vir Suider-Afrika is. Dit word gevolg deur die Verenigde Koninkryk met 84 000 ton, die Midde-Ooste met 65 000 ton, Noord-Amerika met 53 000 ton en Suidoos-Asië wat 42 000 ton ingevoer het.