Ryp en swaar neerslae op weerspyskaart

  • 08 April 2022
  • 1066
  • nuus



So meen Johan van den Berg, ʼn onafhanklike landbouweerkundige. Hy voorspel voorts dat minimum temperature Woensdag-en Donderdagoggend tot onder 5° C kan daal oor die sentrale tot suidelike dele van die Vrystaat, die noordelike binneland van die Oos-Kaap en suidoostelike dele van die Noord-Kaap, wat die moontlikheid van ligte ryp in dié gebiede skep.

ʼn Trog van laagdruk sal rondom Vrydag begin ontwikkel oor die westelike binneland, wat die toestande vir reën oor die binneland, veral Noordwes, die Vrystaat, Gauteng, die suidelike dele van Mpumalanga, die hele KwaZulu-Natal en die noordelike dele van die Oos-Kaap verbeter. Redelike swaar neerslae word vanaf 9 April tot Dinsdag, 12 April, voorspel vir die Vrystaat, Gauteng, Noordwes en KwaZulu-Natal.

Volgens Van den Berg kan die swaar reën wat die afgelope naweek oor die somerreëngebied voorgekom het en die swaar reën wat verwag word, toestande bemoeilik wanneer veral sonneblom en sojabone stroopgereed is. Landerye is plek-plek steeds nat na die oormaat reën wat in Desember en Januarie voorgekom het. Veral in die Vrystaat en Noordwes kan verdere skade voorkom.

Alhoewel nog neerslae in die oostelike produksiegebiede verwelkom sal word, gaan dit probleme skep as die reën in April en Mei aanhou. Die nat toestande kan siektes soos kopvrot en Fusarium by grane laat voorkom en die uiteinde is dat graanboere nie net gaan sukkel om te stroop nie maar ook met gehalteprobleme te kampe gaan hê.

Die koeler verwagte toestande kan voorts ʼn impak uitoefen op pitmassas en Van den Berg meen dit kan tot gevolg hê dat ʼn groter persentasie van veral die mielieoes vanjaar swakker grade kan lewer. Dit is veral laat aanplantings wat geknou kan word.