SA goed op pad om 2,2 miljoen ton mielies uit te voer – Sagis

  • 10 September 2020
  • 2144
  • nuus



Volgens die mees onlangse in- en uitvoersyfers van die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (Sagis), is groot vordering in dié verband gemaak met meer as 1,26 miljoen ton mielies wat reeds teen die einde van Augustus uitgevoer is.

ʼn Verdere 280 000 ton sal die land voor 23 Oktober verlaat, en teen dié tyd sal 72% van die geskatte uitvoer reeds gelewer wees. Van die mielies wat reeds uitgevoer is, is 322 000 ton wit en 942 000 ton geel. In terme van verspreiding is die meeste witmielies (121 000 ton) na Zimbabwe en Mosambiek (44 000 ton), terwyl die meeste geelmielies na Taiwan (323 000 ton) en Suid-Korea (258 000 ton) is.

Volgens Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbousakekamer Agbiz, is die beoogde uitvoer ongeveer 49% meer as in die 2019-’20 bemarkingsjaar, hoofsaaklik as gevolg van vanjaar se buitengewone groot oes. Verlede jaar se totale uitvoer was 1,45 miljoen ton.

ʼn Belowende bemarkingsjaar

In terme van uitvoere, het Suid-Afrika in die week van 28 Augustus 2020 ongeveer 80 309 ton mielies uitgevoer. Hiervan is 43% na Japan, 35% na Vietnam en die res na Suider-Afrika lande uitgevoer.

Die toonaangewende markte, volgens Wandile, vir witmielies is Zimbabwe, Botswana, Mosambiek, Lesotho en Namibië, terwyl Japan, Taiwan, Vietnam en Suid-Korea hoofsaaklik geelmielies invoer.

Lande in Suider-Afrika en Oos-Afrika staar, behalwe vir uitdagende klimaatsomstandighede, bykomende risikofaktore in die gesig, naamlik ʼn plaag van woestynsprinkane in Ethiopië, Kenia, Somalië, Suid-Soedan en Soedan, asook die langdurige impak van die Covid-19-pandemie. Laasgenoemde het veral ʼn beduidende impak op kleinskaalse boere en informele markte as gevolg van die inperkingsmaatreëls wat die beweging van mense verhoed.